Ná baie navorsing het Sharon Standifird van Houston, Texas, die app Ignore No More ontwikkel, wat ouers hul kinders se slimfoon laat beheer as hulle dink hul kinders ignoreer hulle.

Haar webtuiste beskryf die app heel oulik: “Wanneer jy jou kind se foon met Ignore No More sluit, het hulle net twee keuses: hulle kan jou terugbel of ’n noodoproep maak. Geen oproepe aan vriende, geen teksboodskappe, geen speletjies. Dis neusie verby tot hulle jou terugbel. Daarna kan jy besluit of jy die foon wil ontsluit. Hoe’s dit vir ouerbeheer?”

Dit sluit die teksboodskappe, speletjies en oproepe na vriende. Die kind sal altyd nooddienste (911) kan bel.

Die ouer kies ’n wagwoord wat die foon kan ontsluit, wat die kind aanmoedig om gou terug te bel sodat hulle weer toegang het tot die slimfoon se ander funksies en apps.

Ignore No More kos sowat R20 ($1,99) en is tans net beskikbaar op Google Play vir Android-toestelle, maar Sharon sê hulle is besig met ’n weergawe vir die iPhone.

Bronne: Buzzfeed, The Independent, CNet