Volgens die staatsbeheerde koerant Chronicle het die ongeïdentifiseerde ma beweer sy het haar 15-jarige dogter laat trou om “haar toekoms te verseker wanneer sy nie meer leef nie”.

Sy het gesê sy het ’n ernstige siekte opgedoen wat kan veroorsaak dat sy skielik sterf. Daarom wou sy nie haar dogter los sonder iemand om na haar om te sien nie.

Die hof het gehoor die vrou het haar dogter op 12 Januarie gedwing om met Jelias Nyika te trou, maar die jong meisie het geweier.

Maar op dieselfde aand het die vrou haar dogter onder dwang na Jelias se huis geneem. Daar het sy by die deur wag gestaan terwyl Jelias met die jong meisie seks gehad het.

Seks met ’n minderjarige

Die saak het aan die lig gekom toe die tienermeisie se ouma die voorval by die polisie aanmeld. Dit het daartoe gelei dat die vrou in hegtenis geneem is.

Jelias is ook in hegtenis geneem. Hy is 24 maande tronkstraf opgelê nadat hy skuld beken het op die ernstiger klag van seks met ’n minderjarige.

Die voorval het plaasgevind skaars ’n jaar nadat die land in Suider-Afrika kinderhuwelike verbied het.

In ’n waterskeidingsuitspraak verlede jaar het die konstitusionele hof van Zimbabwe huwelike vir almal onder 18 verbied.

Die besluit het gekom nadat die regswaghond Veritas die land se wette uitgedaag het wat nie ’n minimum ouderdom vir die huwelik gestel het nie.

Die groep wou hê die howe moes die wet op kinderhuwelike aanpas by die land se nuwe grondwet wat op ’n referendum in 2013 aanvaar is.

Bron: News24