“Ek kan nie wag om my kind styf vas te hou nie!”

So het Annamarie Smuts aan Huisgenoot gesê nadat haar seun, Tiaan (28), in die Roodepoortse landdroshof van alle moordklagte vrygespreek is.

Hy was net enkele minute in die hof voor hy as vry man uitgestap het nadat hy op 3 Junie aangkla is weens die moorde op Anthony Scholefield, Kevin McAlpine en Hanle Lategan, almal van Krugersdorp, in Mei vanjaar.

Daar was ook een klag van ontvoering en drie van roof met verswarende omstandighede teen hom. Hy was byna vier maande lank in aanhouding.

“Ek is baie opgewonde; ek kan nie wag om my seun weer te sien nie,” het Annamarie in ’n WhatsApp-boodskap aan ons geskryf. Sy beplan glo “iets spesiaals” om hom tuis in die armoedige woonbuurt Burgershoop in Krugersdorp te verwelkom.

Christiaan, soos sy naam op sy ID aangedui word, se voormalige medebeskuldigde, Fabian Luft (32), is reeds op 25 Augustus vrygelaat.

“Dit was moeilik in die tronk sonder Fabian; die twee het mekaar ondersteun,” vertel Annemarie. “Ek het aande om gehuil oor Christiaan en van die begin af geweet hy het niks met die moorde te doen gehad het nie.”

Sy het vir hom ’n bord gemaak met die boodskap “Welkom terug seun” daarop, vertel sy. En ook aan Huisgenoot ’n foto gestuur van haar in ’n spesiale ligblou pakkie: “Kyk hoe lyk ek. Ek het myself mooi gemaak vir my kind!”

Op sy beurt was Tiaan so bly hy kon skaars 'n woord uitkry. Al wat hy wel gesê het, is dat hy opgewonde is om uit die tronk te wees.

Nog twee afspraakmoord-verdagtes, Leroux (21) en sy sussie, Marcel (18) Steyn, is steeds in aanhouding.