[caption id="attachment_147802" align="alignnone" width="600"]Rowena Fuller (59) is op soek na haar dogter, Nicola. Foto: ITV/Skermgreep Rowena Fuller (59) is op soek na haar dogter, Nicola. Foto: ITV/Skermgreep[/caption]

Rowena Fuller (59) van Dijon, Frankryk, het Saterdag ’n emosiebelaaide brief op Facebook gedeel waarin sy vertel van haar babadogtertjie, Nicola, wat sonder haar toestemming van haar weggeneem is. Rowena was sewentien jaar oud toe Nicola gebore is.

Haar roerende brief is intussen meer as ’n halfmiljoen keer gedeel.

Rowena, wat ’n groot deel van haar lewe in Wallis gewoon het, het op Facebook geskryf Nicola is 19 Desember 1973 in die Heath hospitaal in Cardiff gebore. "Ek het jou Nicola genoem; op jou geboorteserifikaat staan daar Nicola Brett," vertel Rowena.

“Vir tien dae het ek geleer hoe om jou te bad, warm te hou en vas te hou,” vertel die ma verder.

Maar op 30 Desember 1973, ’n grou wintersdag in Cardiff, is Nicola van Rowena weggeraap. Dit was drie dae na haar sewentiende verjaarsdag.

"’n Vrou het vir jou gewag in die parkeerarea, maar ek wou jou nie laat gaan nie," lui haar inskrywing verder. Maar Rowena se eie ma wou niks weet nie en het glo met haar gestoei en die kind uit haar hande gegryp en aan die vreemde vrou gegee.

“Die vrou het omgedraai en weggeloop. Dit het gevoel of my hart uitgeruk word.”

Rowena vertel haar ma was glo bang sy sou haar plek by die klubhuis verloor as Rowena haar kleindogter sou hou terwyl haar pa gesê het sy moet "groot word, al het ek hom gesmeek dat ek Nicola mag hou".

Saam met die inskrywing het Rowena ’n verbleikte foto van Nicola gedeel, die enigste een wat sy besit. "Hierdie foto is deur jou aangenome ouers op jou eerste verjaarsdag geneem," onthou sy. "Dis die enigste foto van jou wat ek het."

Nou is dit Rowena se hartsbegeerte om haar verlore dogter na meer as vier dekades op te spoor.

Hoewel haar inskrywing wyd gedeel is, voel almal nie Rowena neem die regte stappe om haar dogter op te spoor nie. Tydens ’n onlangse verskyning op ’n plaaslike televisieprogram het een kyker laat hoor: "Dis so selfsugtig. Daar is behoorlike stappe om te volg, daarom word al die partye beskerm. Ek voel vir Nicola."

Talle mense voel Rowena maak inbraak op Nicola se lewe, en dat sy dalk nie haar ma wil ontmoet nie. Op dié aantygings sê Rowena sy het geensins die behoefte om in Nicola se lewe "in te bars" nie.

"Al wat ek wil doen is om die deur oop te maak sodat die opsie daar is vir haar sou sy wou."

Sy het bygevoeg dat sy haar stryd sal laat vaar sou haar dogter kies om nie met haar te ontmoet nie.

Bronne: Mirror; Daily Mail