’n Bekommerde ma van Pretoria en stiefma van Lydenburg, Mpumalanga, het hulle na Facebook gewend in ’n desperate poging om hulle seun te vind.

Hulle seun, Antonie Botha (31), het omstreeks etenstyd op 17 Mei spoorloos in die Montana gebied verdwyn.

“Hy het te voet in die Montana-gebied weggeraak. Sy motor en klere is tuis,” het Alison op Facebook gedeel.

Antonie het ’n grys broek, ’n groen gholfhemp, blou baadjie en swart skoene aangehad toe hy laas gewaar is. Hy het donker hare met groen oë.

“Dit is noodsaaklik om hom op te spoor. Sy vrou is in ’n toestand oor sy verdwyning,” het Antonie se ma van Pretoria, Lea Minnaar aan Huisgenoot.com gesê.

Vriende en familie het hulle ook na die sosiale media-platform gewend om Antonie aan te moedig om terug te keer na sy huis.

Antonie se pa, Danie Botha, het ook na Suid-Afrika teruggekeer.

“Seun jou pa het alles gestop en net so gelos en van Costa Rica gekom om te help om na jou te soek”, het Lea gesê.

Enigiemand met meer inligting of wat dalk vir Antonie gewaar het, word versoek om kol. Alet Pratt van die Sinoville-polisiestasie by 012 543 0800 kontak.