WEKE, maande – wie weet hoe lank was die 82-jarige vrou van Kaapstad ’n gevangene in ’n kamertjie skaars groot genoeg om in rond te beweeg? Sy self het tred van die tyd verloor. Was dit dag of nag buite? Die vensters was dan met planke toegespyker, die deur van buite gegrendel.

So het sy die dae maar meesal op haar enkelbedjie om gelê; smagtend na die volgende maaltyd, wat dalk vandag, dalk eers dae later weer sou kom. So het die eens goed geronde vrou tot ’n skeletagtige 35 kg weggekwyn.

Sonder lopende water en sonder toiletgeriewe is Mary Mullins* se menswaardigheid, haar reg op ’n normale bestaan, daagliks van haar weggestroop. En haar tronkbewaarder was die man aan wie sy 57 jaar tevore die lewe geskenk het. Haar karige pensioen het hy vermoedelik elke maand vir homself opgeëis . . .

Die kos wat hy aangedra het, was nooit genoeg om haar honger te stil nie; die water net genoeg sodat sy haar dors kon les en haar waslappie kon klam maak om die ergste vuil weg te vee.

Twee jaar tevore het sy ’n mastektomie ondergaan, maar daar was geen opvolgbesoeke om te kyk dat die kanker nie versprei het nie. Die aangeboude kamertjie aan die huis in Brooklyn het haar hele wêreld geword.

Tevore, in ’n veraf vorige lewe, was sy ’n sterk vrou wat nie voor terugslae geswig het nie. Nou, om net ’n bietjie rede te behou, het sy koorsig lysies gemaak in ’n notaboekie wat haar seun haar gegun het: ellelange lyste oor wat sy in haar tuintjie sou wou plant as die lente aanbreek, watter van haar meubels, nou in haar seun se huis, reggemaak moes word, wat sy van die winkels nodig het . . .

En toe Mary uiteindelik bevry word en iemand haar later, in ’n plek van veiligheid, vra wat sy nodig het, druk sy die lysies in hul hand. Dè, hier is dit, sy’t dit alles noukeurig neergeskryf . . .

Lees die volledige artikel in die Huisgenoot van 27 Januarie 2011.

Bespreek vir Skouspel!