Felix se ma, Lucy (51), is verpletter – en sy praat reguit in die hoop dat ander kinders nooit onderwerp sal word aan die soort pyn wat Felix verduur het nie.

Die verpleegster het aan die Sun vertel die afknouery het begin toe Felix op laerskool was. Een van sy klasmaats het hom gespot omdat hy nie toegelaat is om die videospeletjie Call of Duty: Modern Warfare 2 te speel nie. Die afknouery het van daardie tyd af vererger tot Felix op die ou end “die mees gehate seun in die skool” geword het.

Lucy, wat ook ’n 22-jarige dogter, Charlotte, en nog ’n seun, Ben (21), het, waarsku ander ouers teen die gevare van ’n afknouery in die kuberruim.

“Ons pragtige 17-jarige seun het op 27 April sy eie lewe geneem,” lui haar plasing in die sosiale media. “Hy het besluit om dit te doen omdat hy geen weg na geluk gesien het nie.

“Dit het met onvriendelikheid en sosiale afsondering begin en oor die jare, met die koms van die sosiale media, het dit wreed en oorweldigend geraak.”

Lees ook: Ma vaar uit teen internetboelies wat foto van haar seun in meme gebruik

Sy skryf: “Mense wat Felix nog nooit eens ontmoet het nie, het hom in die sosiale media mishandel.”

Sy verduidelik voorts van haar seun se stryd om vriende te maak omdat hy as die mees “gehate” seun in die skool bekend was. Dinge het later so erg geraak dat hy van skool verander het.

“Hoewel hy ongelukkig was, het hy die onbekende gevrees en het hy gevoel omdat hy homself van so min waarde ag, sou ’n ander skool geen verskil maak nie.”

Lucy sê Felix het wel daar vriende gemaak en sy onderwysers het hom “slim, vriendelik en sorgsaam” gevind.

Maar dit kon nie Felix se pyn genees nie.

“Die afknouery, afsondering en onvriendelikheid wat hy ondervind het, het soveel skade aangerig; hy kon nie insien dat so baie mense werklik vir hom omgee nie,” het sy gesê.

“Ek skryf nie hierdie brief om simpatie te soek nie, maar omdat daar so baie ander kinders soos Felix is wat sukkel en ons moet bewus word van die wrede wêreld waarin ons leef.”

son2

“Ek vra mooi dat kinders altyd vriendelik moet wees en nooit net toeskouers moet wees en voorvalle van afknouery nie aanmeld nie. Wees daardie een mens wat bereid is om hul man te staan teen onvriendelikheid. Jy sal nooit spyt wees jy is ’n goeie vriend/in nie.

“Ek het gehoor ‘almal sê dinge wat hulle nie bedoel nie in die sosiale media’. Onvriendelikheid word afgemaak as ‘plaery’, en omdat hulle nie die uitwerking van hul woorde kan sien nie, glo hulle dit het geen uitwerking nie.

Lees ook: Gevaarlike wanopvattings oor afknouery waaraan ouers dadelik moet aandag gee

“Ons kinders moet verstaan hul optrede lei tot gevolge en dat mense soms dodelik gewond word deur hierdie ‘toetsbordkrygers’.

“Nie alle kinders neem deel aan aanlyn mishandeling nie, maar hulle kan aandadig raak deur ander toe te laat om dit te doen deur dit nie aan te meld nie, deur nie die kind wat afgeknou word, te steun of met hulle vriende te maak nie en dit regverdig die boelie se gedrag.”

Lucy het ouers ook gevra om waaksaam te wees ten opsigte van hul kinders se aanlyn gewoontes en sy raai hulle aan om selfs ’n ogie te hou oor hul kind se verskillende rekeninge in die sosiale media.

“Ons hou nie van die gedagte dat ons kinders verantwoordelik kan wees vir wreedheid teenoor ’n ander kind nie, maar ek is geskok oor die ‘gawe’ kinders wat verantwoordelik was vir ’n deel van Felix se sieleleed. Selfs al sê hulle net een keer iets aakligs, sal dit nie die enigste mens wees wat daardie week iets gesê het nie.

“Groepgeselsies kan veral ’n probleem raak en dit kan baie maklik in haatfeeste verval. Dit is alte simplisties om te sê ‘hoekom blokkeer jy hulle nie?’ of ‘Jy hoef dit nie te lees nie!’ Dit is die manier waarop jongmense deesdae kommunikeer en baie van hulle verloor in werklikheid die vermoë om doeltreffend van aangesig tot aangesig te kommunikeer.

“Ons het verskeie kere alle vorme van die sosiale media van Felix verwyder, aangesien dit so baie hartseer veroorsaak het, maar dit het hom net nog meer afgesonder en hy het dit as straf, nie beskerming nie, beskou. Kyk ’n slag na jou kinders se Twitter, Instagram, Snapchat, Googlechat en Facebook.

“Help hulle om te verstaan indien hulle iets sou plaas of skryf wat hulle nie sou wou hê jy moet sien nie, hulle dit nie behoort te doen nie. Help hulle om dit self te redigeer voor hulle dit plaas. Ons het ’n gesamentlike verantwoordelikheid om te voorkom dat nog jong lewens verloor word as gevolg van onvriendelikheid en boeliebedrywighede.

“Julle merk miskien op ek het een woord herhaaldelik in hierdie brief gebruik en ek maak glad nie verskoning daarvoor nie. Die woord is vriendelikheid. Ek het dit by ons seun se begrafnis gesê. Wees asseblief altyd vriendelik, want jy weet nooit wat in iemand se hart of gedagtes aangaan nie.

“Ons lewe is onherroeplik verwoes deur die verlies van ons wonderlike seun; moet asseblief nie toelaat dat dit met enige ander gesin gebeur nie.”

– Shanaaz Prince

Bronne: Worcesternews, Mirror.co.uk, The Guardian, The Sun, Mashable.com