Vier maande ná die dood van die seun met die “verwronge lyfie maar ’n volmaak vlekkelose hart” bly sy plek pynlik leeg in sy ma, Johleen Bezuidenhout (32), en haar lewensmaat, Quintin Carter (43), se huis in Blouwaterbaai naby Port Elizabeth (Rus sag, dapper vegtertjie, 1 September 2016). Tog is hy steeds deel van hul lewe.

[caption id="attachment_152136" align="aligncenter" width="600"]jonathan-se-laaste-kersfees-copy-2 Foto: Misha Jordaan[/caption]

Sy oupa en ouma, Johan en Doreen Bezuidenhout, voel nog sy teenwoordigheid aan in hul huis hier naby in Swartkops, waar Johnathan vir die grootste deel van sy lewe saam met sy ma gewoon het, vertel Johleen.

Ouma Doreen was een oggend, net ’n paar dae ná sy dood, besig om haar te grimeer toe die son op die slaapkamerdeur skyn. Toe sien sy dit vir die eerste keer: ’n duidelike afdruk van Johnathan se twee geknobbelde handjies in die ligstrale op die hout. “Hoe lank is dit al daar?” wonder Johleen nou.

Dit was met die jare vir die dokters moeilik om te besluit aan watter seldsame, genetiese toestand haar erg gestremde kind gely het. Teen sy twaalfde verjaardag het hulle gemeen dit is mukopolisakkaridose, ’n toestand wat by net een uit ’n miljoen geboortes voorkom en onder meer tot misvormde ledemate lei. Sedert ’n beroerte meer as ’n jaar gelede, het hy ál maerder en swakker geword.

En nou lê die eerste Kersfees sonder Johnathan vir sy familie voor. Dan vind Johleen tog die woorde om ’n roerende brief aan hom te skryf:

My Johnathan, die helderste ster daarbo,

Op 11 Augustus 2016 om 09:45 het jy, my klein Superman, ons verlaat. Dit was een groot skok, maar ek weet jy het so lank geveg en ek kon sien jy was moeg. Kort-kort het jy na jou asem gesnak.

Ek kon sien jy wag op my toestemming om jou oor te gee aan Liewe Jesus, maar hoe leef ek met so ’n gewete saam? Sal jy my ooit kan vergewe dat ek besluit het om jou te laat gaan?

Vier ure lank het die personeel van die St. George-hospitaal se kindersaal gesukkel om >i

Die monitors se alarms het bly afgaan en ek was vreeslik onrustig. Ek en jou ouma het jou handjie styf vasgehou en vir jou gesing. Jy het met jou groot, bruin ogies vir ons die laaste kyk gegee en ’n laaste traan het oor jou wang gerol.

Met die laaste asem het jou hartjie gaan staan. Ons weet jou engele en liewe Jesus het daar langs jou bed gestaan om jou te kom haal.

Die afgelope vier maande huil ek elke keer dat ek in die winkels rondloop en die Kersliedjies hoor speel en wanneer mense vra: “Wat wil jy vir Kersfees hê?” Dis ’n persent wat ek nooit sal terugkry nie, want jy is vanjaar en elke jaar wat voorlê, by Liewe Jesus. Jy, Johnathan, sal altyd die grootste geskenk wees wat Jesus my kon gee.

Kersfees gaan ’n dag van baie seer wees en ek vra my af hoe ek daardeur gaan kom. Dan herinner ek my daaraan Johnathan sou wou gehad het ons moet met dankbaarheid deur hierdie dae kom. Hy kon nooit praat nie, maar hy sou gesê het: “Verbly julle.”

Jou boodskap vir ons almal was: Wees dankbaar vir elke oomblik wat jy saam jou geliefdes het.

Baie liefde,

Jou trotse Mamma.