Sy lyf is baie seer en dokters sal binne die volgende dag of twee weet watter kiem sy weefsel aantas. Haar regtervoet, wat tydens haar reddingspoging die ergste verbrand het, lyk ook asof dit dalk besmet is.

Wynandt het in die brand vroeg Vrydagoggend op 7 Julie brandwonde oor 60 persent van sy lyf opgedoen toe hul huurhuis in Boston, Bellville, op ’n tot nou toe nog onverklaarbare wyse aan die brand geslaan het.

Ma Lelani Vermaak, wat Wynandt en sy sussie, McKenzie (5), uit die vlamme gered het, was Sondag by hom. Hulle kon toe vir die eerste keer praat nadat hy uit ’n geïnduseerde koma gebring is, onder meer weens die pyn van sy beserings. Tydens die reddingspoging het die vel op Lelani se hande en voete kwaai gebrand.

Die gesin het darem van 1 September af ’n ander huurhuis om in te trek, net ’n kilometer van waar hulle vroeër in Boston gebly het.

Wynandt is ’n belowende rugbyspeler aan die Hoërskool DF Malan in Bellville, waar die leerders en onnies ingespring het met dinge soos oliebolle bak en verkoop, waarmee hulle al R7 000 ingesamel het vir mediese hulp om Wynandt te help gesond word. Gister het die ouens van Affordable Gaming ZA ’n Playstation3 en speletjies aan hom geskenk. Hier is ’n foto van sy reaksie.

Hy noem sy ma sy “heldin” omdat sy sy lewe gered het.

“My besoek aan Wynandt was baie emosioneel. Ons wou nie hande los nie, ek moes luister na hoe bang hy was toe hy wakker word en sy kamer brand; hoe hy nie na my kon roep nie,” vertel Lelani oor haar mees onlangse besoek.

“Hoe hy gedink het dit is sy einde. Die deur wou nie oop nie . . . en toe kom mamma. Ons het baie om saam deur te werk wanneer ons albei gesond is, saam as ’n familie,” skryf Lelani op Facebook.

Hier is ’n video voor die besoek, waarin Wynandt ’n boodskap vir sy ma het.

“Ma, Wynandt hierso, by Melomed (die hospitaal in Bellville); ek dink. My lyf is seer, maar verder gaan dit goed. Lief vir jou. Sien jou een van die dae. Môre,” sê die dapper Wynandt in ’n vroeëre video-boodskap aan sy ma, ’n dag voordat sy die tweede keer ’n dagpas van haar dokter by die Mediclinic Louis Leipoldt ’n paar kilometers van hom af gekry het.

'n Vriendin van Lelani het dit opgeneem.

“Ek kan my man nie genoeg dankbaar wees vir die wonderlike pappa wat hy vir Wynandt is nie,” skryf Lelani verder. “Hy mis nie ’n besoektyd nie. As Wynandt dors is, sal hy eerste opspring om hom water of koeldrank te gee. As hy te warm of koud kry, skuif Pappa die duvet reg. As Wynandt se rug jeuk, is Pappa daar om te help. Morné, jy is n ENGEL! Ons is so lief vir jou.”

Morné Vermaak moet tussen die hospitale en dagsorg rondjaag om sy vrou, stiefseun en McKenzie te versorg en ondersteun. Hy werk as bedryfsbestuurder by Bosasa, ’n bemagtigingsorganisasie vir jeugdiges. Lelani is ’n bemarker by Huis Zonnekus, ’n tuiste vir bejaardes in Milnerton, Kaapstad.

Intussen kom kuier Wynandt se biologiese pa, Eghardt Vermaak, so gereeld moontlik uit Porterville in  Namakwaland, waar hy vir korrektiewe dienste werk.

“Met my laaste besoek het hy grappies gemaak,” vertel Eghardt aan Huisgenoot.com. “Hy is besig om weer sy ou self te word. Ek is baie trots op my seun.”

* Lees in die nuutste Huisgenoot (3 Augustus) die onderhoud met Wynandt Vermaak se ouers, Lelani en Morné, oor al die wonderwerke wat hulle tydens die brand en in die dae kort daarna beleef het.