Vroeër vanjaar het ’n 19-jarige vrou ’n brandende trok gelig om haar pa se lewe te red.

Meer onlangs het ’n ma van Colorado haar vyfjarige seun in hul voortuin uit ’n poema se kake bevry. Hierdie naamlose ma het aan die balju-kantoor in die Pitkin-distrik vertel haar twee seuns het buite gespeel toe sy hulle skielik hoor skree. Sy is inderhaas buitentoe, waar sy die dier op haar jonger seun aangetref het.

Adjunkhoof Michael Buglione beskou die ma as ’n held nadat sy die kat se kake oopgedwing het.

Die seun het wonde aan sy gesig, kop en nek opgedoen en is na die hospitaal geneem, maar volgens die balju se kantoor sterk hy goed aan. Die ma het geringe beserings aan haar hand en bene opgedoen.

Intussen het beamptes ’n tweejarige poemamannetjie opgespoor naby die area waar die voorval plaasgevind het en hom geskiet.

Bronne: bbc.com, abc.net.au