Durban – ’n Ma van Durban het in ’n wanhopige poging om ’n indringer weg van haar 10-jarige dogter te hou diefwering uit die muur geruk en haar aanvaller genadeloos daarmee geslaan tot hy by die venster uitgeval het.

“Ek kon nie toelaat dat hy by my huis inkom en enigsins naby my dogter kom nie,” het Michele Mayer (49) van Waterfall vertel oor hoe sy gedryf is om terug te baklei. Sy het Sondagnag wakker geskrik toe ’n inbreker die diefwering van haar kamervenster inskop.

Die ma, wat haar eie onderneming bedryf, het in ’n eksklusiewe onderhoud met News24 vertel van die voorval waartydens sy die man oorrompel het wat haar huis wou binnedring.

“Net ek en my dogter was tuis. My man en seun was besig om terug te ry van ’n uitstappie af. Ek het geslaap en toe ’n harde kapgeluid gehoor. Ek het wakker geskrik en gesien hoe die man die diefwering inskop. Twee skoppe en toe hang dit van die muur af,” vertel sy.

“Hy het deur die venster tot op ’n klein lessenaar geklim en met die diefwering gesukkel soos hy dit van die venster af probeer verwyder het en dis toe dat ek hom aanval.

“Ek het die metaaldiefwering gegryp en hom so hard as wat ek kon in die gesig geslaan. Ek het hom seker so 10 keer tydens die worsteling geslaan. Hy het eindelik by die venster uitgeval en weggehardloop.

“Die worsteling was erg, want ek het kneusplekke aan my arms en bene. My eerste gedagte was om my dogter te beskerm. Ek sal altyd veg. Ek het nie eens gedink aan wat ek sal doen as hy moet inkom nie. My enigste gedagte was dat ek hom nie verder in my huis kon laat inkom nie. Ek was soos ’n wilde vrou.”

Bron: News24