Op 22 Maart 2014 het Liam Fee (2) in sy huis naby Glenrothes in Fife, Skotland gesterf. Sy ma, Rachel Trelfa (31) en haar lewensmaat, Nyomi Fee (28) is op Dinsdag, 31 Mei 2016 skuldig bevind aan sy moord.

Die kleuter, en twee ander sewejarige seuns, is grusaam deur die sadistiese paartjie mishandel. Die paartjie se gedrag word in die media as “ontoegeeflike, hartelose wreedheid” bestempel. Maar selfs dit bly in gebreke om die omvang van hul optrede te beskryf. Liam se kort lewetjie het tot ’n einde gekom as gevolg van trauma deur ’n stomp voorwerp toegedien. Altans, dit was die aanvanklike gevolgtrekking.

Liam is oor ’n tydperk van maande aanhoudelik met ’n stomp voorwerp aangerand.

Volgens wat berig word het Liam onder afgryslike en toenemende mishandeling deurgeloop. Die mense verantwoordelik daarvoor was sy eie ma en haar lewensmaat.

Hy is alleen ’n donker vertrek gelos, medisyne gevoer om hom te laat slaap en die paartjie het gefaal om betyds enige mediese hulp vir hom te bekom toe hy ernstig beseer was.

In die dae voor hy gesterf het, het Liam ’n gebreekte arm en been gehad en meer as 30 beserings is raakgesien.

Die twee vroue was bewus daarvan, maar in plaas daarvan om mediese hulp te ontbied, het die twee hulle na die internet gewend.

Volgens itv.com dui hul internetgeskiedenis op soektogte wat insluit: “hoe lank kan jy met ’n gebreekte been leef?” en “heupharnas vir kleuters”.

Dit was egter die hou op sy maag wat so ongelooflik hard was dat dit sy hart laat bars het.

Asof dit nie genoeg is nie . . . was die volgende internetsoektog op Rachel se foon: “Kan vroue saam in die tronk wees?”

Die twee vroue het egter sy dood probeer verdoesel en die skuld op ’n ander sewejarige in die huis geplaas. Toe hulle besef Liam is dood, het hulle die seun se hande skoongevee en daarna sy vuis in Liam se mond gedruk. “Jy het hom doodgemaak,” het Liam se ma aan hom gesê.

Die ysingswekkende mishandeling van die kinders word as ’n “katalogus van mishandeling” beskryf.

Die sewejarige het aan die polisie vertel dat hy nakend in ’n hok in die leefvertrek moes slaap. Partykeer sou hy regop sit, ander kere lê. Met sy hande met kabelbande ("cable ties") vasgebind. Ander kere was dit ’n japonkoord en jasgordels.

“Sy het my aan die stoel vasgemaak met ’n japon se gordel sodat ek nie my arms kon beweeg nie, en ek kon nie van die stoel af opstaan nie.

“Dit (die koord) was pienk en wollerig. Sy het my heelnag daar gelos.”

Die vasbindery sou sy hande laat opswel en een van die beskuldigdes het hom glo daaroor getart en dit “poedinghande” genoem.

Die ander seun het glo in ’n kamer geslaap met rotte en slange wat “seuntjies eet”. Daar was ’n luislang in die vertrek.

Toe hy opgegooi het, was hy forseer om dit te eet. Nyomi het hom glo ook onder meer ’n saagmasjien gewys en aan hom gesê dat sy dié saag gebruik het om sy pa te vermoor. Die kinders is ook erg gestraf as hulle per ongeluk ’n glips in die bed gekry het. Yskoue stortbaddens . . . Een van die seuntjies het drie keer probeer vlug maar is elke keer gevang en natuurlik geslaan. ’n Maatskaplike werker en die polisie het wel by Liam se huis aangedoen nadat sy kleuterskool agterdogtig geraak het oor kneusplekke aan die tweejarige se lyf. Hulle het ook gesien hy is beangs as hulle hom kom haal.

Die vroue het gesê dat Liam bloot sy kop gestamp het; die wolhaarstorie is aanvaar.

Die twee vroue sal op 6 Julie 2016 gevonnis word.

Bronne: bbc.com, youtube.com, thesun.co.uk, itv.com, dailyrecord.couk

Ander stories op Huisgenoot.com

Kyk: Mense vorm ‘trampolien’ om gesin uit brandende woonstelblok te red

Wêreld se eerste 3D-gedrukte motorfiets lig soos ’n veer

Twee van ons land se mooistes byeen in Monaco!

Gert van Rooyen: ‘Slagoffer’ verbreek stilte ná 39 jaar

‘Ek is so dankbaar’: Vrou wat 18 jaar gelede uit brandende gebou gered is, herenig met haar redder