Maar op Sondag 26 Februarie kon Jo-Ann Beckmann nie meer nie.

“Dit is oor ons dogtertjie,” sê Jo-Ann se man, Edward.

“Sy sê sy kon net nie meer aangaan nie. Sy praat dat die pyn net te erg is.”

Jo-Ann en Edward het op 25 Januarie hul tweejarige dogtertjie, Zoey, aan die dood afgestaan. Sy is in die Kimberley-hospitaal dood weens septisemie.

 

Op 14 Februarie vanjaar skryf Jo-Ann op haar Facebook-blad: "Ek en Edward Beckmann sit by Zoey se graffie. Edward sê vir my: 'Die graf langs Zoey Beckmann s'n is nog steeds leeg.' Vir die eerste keer kyk ek met ander oë na die leë graffie langs Zoey. En die besef dring tot my deur dat die leë graffie wag vir iemand se kind. Skrikwekkend né?

Jo-Ann en Edward was die afgelope Sondag weer by Zoey sê graf. Ure later het Edward op Jo-Ann afgekom waar sy haar polse gesny het.

Edward is saam met Jo-Ann in die 3 Militêre hospitaal opgeneem. Jo-Ann het geweier om alleen te gaan waarna Edward gevra het of hy ook opgeneem kon word ter wille van Jo-Ann.

Sy het sedertdien ’n sielkundige gespreek.

“Dit lyk beslis asof dit al beter gaan met haar. Ek dink die tyd weg van die huis af is ook goed, want by die huis is al die herinnerings en dit is die herinnerings wat die probleem is,” sê Edward.

“Almal sê die seer sal maar altyd daar bly.”

Edward sê hulle sal heel moontlik al Vrydag ontslaan word.