Sy is al ses jaar oud, maar klein Chadé van Niekerk weeg skaars meer as ’n sak aartappels.

[caption id="attachment_123665" align="alignnone" width="600"]Chadé is verlede jaar met die seldsame siektestoestand gediagnoseer. Foto: Facebook Chadé is verlede jaar met die seldsame siektestoestand viserale miopatie gediagnoseer. Foto: Facebook[/caption]

Sowat ’n jaar gelede is viserale miopatie by dié rooikopmeisietjie van Birchleigh in Kempton Park gediagnoseer. Sedertdien was sy so baie in die hospitaal dat sy haar gr 1.-jaar moes kortknip.

Viserale miopatie is ’n seldsame siektetoestand wat die werking van die dermkanaal en die spierweefsel affekteer. Kos kan nie deur die dermkanaal beweeg en deur die liggaam opgeneem word nie.

Chadé se ma, Charlotte, is ’n enkelouer en die twee woon saam met Chadé se jonger boetie by hul ouma en oupa. “Hulle sukkel finansieel,” vertel ’n vriendin, Karien Theunissen. Haar dogtertjie en Chadé was klasmaats.

Charlotte is die enigste broodwinner, maar sy het onlangs haar werk verloor – glo omdat sy so baie tyd saam Chadé in die hospitaal deurgebring het. Hul elektrisiteit is onlangs afgesny en die familie sukkel om kop bo water te hou.

Lees ook: ‘Ons glo sy sal binne ’n dag op haar eie kan asemhaal,’ sê baba se pa ná baanbrekersoperasie

Pleks van soos enige ander sesjarige sorgeloos saam haar maatjies speel, moes Chadré in November ’n operasie ondergaan om haar blindederm aan haar naeltjie te heg. Dit volg nadat ’n derde van haar dikderm vroeër verwyder moes word. Sedertdien neem sy kos deur ’n buis in haar maag in om haar aan die lewe te hou, sê Karien.

Karien het intussen ’n Facebook-groep, Gebed vir Chadé, begin om Chadé se naasbestaandes en klasmaats namens Charlotte op die hoogte te hou van haar vordering. Sy deel ook gereeld foto’s van die krulkoppie.

[caption id="attachment_123666" align="alignnone" width="600"]Nadat 'n derde van Chadé se dikderm verwyder is, het sy vinnig baie gewig verloor. Foto: Facebook Nadat 'n derde van Chadé se dikderm verwyder is, het sy vinnig baie gewig verloor. Foto: Facebook[/caption]

Nadat ’n deel van Chadé se dikderm verwyder is, het sy vinnig gewig verloor en weeg nou net meer as 11 kg. Sy dra ook ’n sakkie aan haar sy, wat baie ongemaklik is.

“Ons mag haar nie dwing om te eet en drink nie,” het Charlotte op die Facebook-blad geskryf. “Sy kry tans vitamiene en mag net sekere kosse eet.”

Sowat twee weke gelede het Charlotte laat weet Chadé het weer baie pyn. “Sy is vanoggend huilerig en ons moes die sakkie vervang omdat dit aan die dermkant gelek het. Operasies help nie meer veel nie. Dankie vir almal se gebede.”

Twee dae gelede het nog ’n terugslag die familie getref: Chadé se ouma het laat weet sy is in die hospitaal vir nog toetse. Vanoggend het Charlotte genoem dokters het nie meer raad nie.

Lees ook: Wonderbaba van Alberton sterf: ‘God het gekom om haar huis toe te vat,’ sê gebroke pa

“Chadé is na die Rooi Kruis-kinderhospitaal in Kaapstad verwys. Die dokters hier het nie meer antwoorde nie, maar by die Rooi Kruis is ’n professor in pediatrie wat alles van die siekte weet en sal kan help.”

Nou bid die familie vir die nodige fondse om Chadé sou gou moontlik na die spesialis in die Kaap te neem.

“Ongelukkig kan hierdie mamma nie alles self doen nie,” pleit Karien. “Iewers moet daar ’n barmhartige samaritaan wees wat kan help dat hierdie arme klein poppie ’n normale lewe kan hê.”

[caption id="attachment_123667" align="alignnone" width="600"]Chadé se ma is dringend op soek na hulp om haar dogter by spesialiste in die Kaap te kry. Foto: Facebook Chadé se ma is dringend op soek na hulp om haar dogter by spesialiste in die Kaap te kry. Foto: Facebook[/caption]

Bereidwilliges kan Karien by 084-913-0449 kontak of skakel met Chadé se skool, die Laerskool Birchleigh, wat die gesin probeer bystaan. Hul nommer is 011-972-2127/8.

Ander stories op Huisgenoot.com

Is jy een van die hand vol kreatiewe mense wat dié optiese illusie kan uitpluis?

‘Ons was sulke goeie vriende,’ vertel eienaar van wêreld se oudste hond na dié haar laaste asem uitblaas

Kyk: Skattige prins George het ereplek op koningin Elizabeth se amptelike foto’s vir haar 90ste verjaardag

Hoe goed kan jy Engels praat?

‘Ek leef ’n heel ander lewe van binne’: Man vertel in roerende video van depressie

Kan jy glo? Dié nege vreemde goed gebeur in die ruimte met ruimtevaarders