“Die uitdagings met die gemeenskap. Die kerk waartoe ek behoort keur dit nie goed,” vertel sy. Sy wil nou haar storie deel van haar stryd om aanvaarding. En ook die eindelike onvoorwaardelike aanvaarding. Sy is trots op haar kinders, maar Allison* (51) van Kaapstad wil naamloos bly.

“Ter wille van die sensitiwiteit van die onderwerp. Mense is maar nog wreed.”

“Sy’t twee keer selfmoord probeer pleeg, maar is albei kere deurgehaal – my dogter. Hoeveel kinders moet nog selfdood toepas omdat hulle bang is vir verwerping? Omdat hulle ouers en die samelewing hulle nie aanvaar nie, omdat die kerk hulle oordeel? Net God kan oordeel, nie ’n mens, nie die kerk nie. Ek het met dit tot my skok (amper te laat)  besef. 

“Sjoe, waar begin ek?  

“Hulle is vier jaar uitmekaar gebore. My eersteling, ’n blouoog-krulkoppie in die winter van 1984. Ek het vir haar die mooiste valletjiesrokkies gekoop. En foto’s geneem van elke verjaardag en gepos vir ouma en oupa.

“Elke nuwe Barbie-pop wou sy hê. Sy was besonder intelligent en het reeds op vyf jaar met gr. 1 begin. Sy het later die oulikste ballerina geword wat ’n Royal Academy-trofee verwerf het. Dis mos maar elke ma se droom dat haar dogtertjie ’n ballerina gaan word.

“Sy het haar akademiese opleiding aan die Universiteit van Kaapstad gekry waarna sy ’n balletonderwysereres geword het. Haar droom. Ek’t begin droom oor haar troudag . . . hoe sy in die kerkpaadjie afstap tot in die arms van haar droomman.

“Sy het verhoudings gehad wat nooit uitgewerk het nie; selfs ’n verlowing. Sy was reeds uit die huis, op haar eie gewoon, toe ek die dag ’n brief ontvang, gerig aan: ‘Mamma en Pappa’.

“My man het my die brief gegee. Die eerste reël in die brief het my in trane laat uitbars. ‘Mammie en Daddy vergewe my, maar ek's lief vir iemand . . . Ek het daarteen baklei, maar ek kan dit nie langer vir myself hou nie.’ Ek het tussen die lyne gelees.

“Sy was toe 26. Ek het gevoel hoe die bloed in my kop instroom en ek duiselig word. ‘Asseblief, Here, nie dit nie! Dis te veel vir my, Here,’ het ek uitgeroep, want sien ek het toe reeds geweet een van my seuns is gay, maar het ook in ontkenning daaroor geleef. My man het die kinders van die begin af onvoorwaardelik aanvaar.

“My stryd het met die Bybel en die kerk begin. My gedagtes het in alle rigtings gegaan. Wat sal die mense sê? Wat sal die kerk sê? Ons is gelowige mense wat hulle met huisgodsdiens en in die kategeseklas grootgemaak het. 

“Ek het begin rebelleer. Ek het navorsing op my eie gedoen. Ek het die Bybelboeke nageslaan wat daaroor skryf. Die verse in Levitikus het my soos 'n vuishou getref.

Ek het haar probeer oortuig dis verkeerd . . . Dis sonde!

“Ons verhouding het daaronder gely. Ons het ál minder met mekaar gepraat. En sonder dat ons dit besef het, uitmekaar gedryf. Ek het die Here gevra dat die verhouding tussen haar en haar lewensmaat nie moet uitwerk nie. ( Hoe selfsugtig van my, het ek later besef.)

“Ek het berading gekry en saam met my sielkundige ’n pad begin loop. Ek moes hierdie ding eers in my kop regkry dat dit nie net gaan oor die seksuele nie, maar oor die liefde tussen twee mense, of hulle nou een geslag of nie dieselfde kleur is nie. Liefde ken nie grense nie. Ek moes leer: Liefde ken nie geslag nie, liefde is liefde.

“Ek moes ’n pad van aanvaarding begin stap. Ek moes leer om my kind se lewensmaat te aanvaar. Dit was nie maklik nie. Ek het my telkemale teen ’n muur van verbittering vasgeloop. Terwyl my kind straal van geluk, het ek dit nie raakgesien nie, want sien, ek was te bekommerd oor die ‘mense’.

"Onthou: Jou kinders word net aan jou geleen."

“My dogter en haar maat is drie jaar gelede getroud. (Ek was nie daar nie). Maar ek moes bevryding kry. Die spyt en verwyt het later gekom . . . 

“Toe ek eindelik hul troufoto’s so ’n maand gelede kyk op die CD wat sy my destyds gegee het, het my trane op die rekenaar se toetsbord geval, want hulle was so pragtig. Hoe kon ek dit misgeloop het? Ek het deur daardie honderde foto’s gekyk, terwyl rou snikke uit my bors geskeur het.

“Ek het my enigste dogter se troudag misgeloop omdat ek bang was oor die kerk en die mense. Ek het onmiddellik ’n e-pos aan hulle gestuur waarin ek vergifnis gevra het. “Haar woorde aan my was: ‘Mamma dis oukei, ek het mamma nog net so lief soos altyd.’

“Ek het dadelik ’n afspraak met my predikant gereël en hom gaan spreek. Ek het aan hom verduidelik dat my dogter in ’n selfdegeslaghuwelik is en my seun ook binnekort gaan trou.

“Op my vraag of my kinders welkom in die kerk is waarin hulle as lidmate voorgestel is, kon hy my nie onmiddellik ’n antwoord gee nie. Hy moes wag vir ’n vergadering. Een van die vrae wat hy my nie kon antwoord is: ‘Hoekom diskrimineer die kerk teen my kinders? Is liefde nie net liefde nie?

“Ek wil net aan ouers sê wat dieselfde pad loop: Aanvaar jou kind met onvoorwaardelike liefde. Moenie, in hemelsnaam, jou kind verwerp of wegstoot nie. “Dis ’n te duur prys om te betaal. Vir my het dit tyd gevat, te lank, te veel kosbare tyd wat verlore is.

“Ek kan nie die horlosie terugdraai nie, maar ek kan nou saam met my kinders die pad stap. My 32-jarige dogter en haar vrou. My 28-jarige seun en sy man. Hulle omarm en hulle beskerm. My dogter is nou swanger deur kunsmatige bevrugting en ek sien so uit na die bondeltjie.

“Ek is vergewe en ons kyk nou vorentoe. Onthou: Jou kinders word net aan jou geleen.”

Save