“Ek is geseën met 'n pragtige dogter wat al in haar 30's is. Ek sien al vandat sy twee jaar oud was alleen na haar om. Swaarkry-, hartseer en gelukkige jare. ’n Pa wat die minimum onderhoud betaal, soms nalaat om te betaal of nooit betyds betaal nie.

Al die bekommernisse, skool-, grootword- en puberteitsjare - alles moes ek alleen dra.  Skoolgeld, klere en boeke. Oueraande alleen, sportbyeenkomste alleen, steun, troos en bystand, alles alleen.  

“Pa was net altyd afwesig of te besig om sy nuwe vrou te beïndruk.  Vir myself was daar nooit tyd nie. Ek was altyd daar vir haar, dag en nag.  Deur al die swaarkry en deur al die blydskap en vreugde.  Soms het ek honger gaan slaap, maar ek het gesorg dat haar magie vol is.  Ek moes al die jare hard werk, soms baie lang ure.  Ek moet steeds elke dag hard werk, al is ek al in my vroeë 70's.  Maar ek dank God, want alles is genade van Hom.

“Toe my dogter ná matriek verder wou studeer, was dit ’n finansiële nagmerrie. Pa was horende doof; te bang hy sou dalk iets moes betaal. Waarheen nou? Soebat, sukkel, smeek en soek vir studiehulp. Die een ná die ander beursaansoek, maar niks.  Tot ’n bank my genadig was met ’n studielening.  Maand ná maand moes ek die rente delg.  Ek is deurgedra. Ek het heel maar armer as arm anderkant uitgekom.

“Hierdie lieflingkind het begin siek word. ’n Siekte wat ek toe nie kon verstaan nie, nie ’n naam voor gehad het nie.”

“Min het ek toe geweet wat nog alles vir ons voorlê. Die eerste jaar het sy al haar vakke met onderskeiding geslaag. Die begin van die tweede jaar tref die grootste skok, ontnugtering en hartseer ons. Hierdie lieflingkind het begin siek word. ’n Siekte wat ek nie toe kon verstaan nie, nie ’n naam voor gehad het nie. Ek het nie geweet wat fout is nie. Sy het haar begin onttrek van alles en almal. Sy het haar studie begin afskeep en dit eindelik gestaak.  Ek moes mooipraat, aanmoedig en smeek, maar niks wou help nie. Ons is dokter toe.  Diagnose? Depressie.  

“Sy was drie maande lank op antidepressante, maar steeds was daar geen verbetering nie.  Haar toestand het net vererger. Sy het onsamehangend begin praat, ure met die Bybel gesit en gesê God het haar nie meer lief nie. Ons is weer dokter toe. Hy het 'n sielkundige aanbeveel.  Sessie op sessie.  Praat en praat.  En elke sessie kos geld, en geld was baie min. Maar my kind moes gesond word.

“Ek was afgetakel. Liggaam en gees, maar ek moes staande bly ter wille van my kind. Sy het my van baie dinge begin beskuldig. Dat ek haar nie meer liefhet nie en dat ek by ander mense van haar skinder. Saam het ons baie trane gestort en in mekaar se arms gehuil.  

“Snags het sy nie geslaap nie. Sy het soms ure buite gesit en op en af geloop. Sy het dinge in die lug gesien wat ek nie kon nie.  Sy het patrone in skadu’s gesien wat ek nie kon nie. Sy het begin fluister, want sy het geglo die bure luister ons af.  Ek was by breekpunt. Ek was gedurig bewus van haar doen en late.  Ek glo ek was snags slapend wakker.  Ek het begin besef hier is groter fout as wat ek dink. Die sielkundige het 'n psigiater aanbeveel.

“Hoe sal ek daardie eerste konsultasie ooit vergeet? Hoe sal ek ooit my gevoel kan beskryf? ‘Mevrou,  jou dogter is skisofrenies.' Hierdie smart sal ek nooit kan beskryf nie.  Vir my het dit na ’n doodsvonnis geklink.  Ek het hierdie siekte nie verstaan of geken nie.  

Ek het soms daarvan gelees of gehoor, maar het nooit kon droom dit sal ons tref nie. In daardie stadium het skisofrenie vir my vrees beteken: vrees vir die dade en gedagtes en die onsekerheid wat voorlê. Ek het hierdie diagnose met niemand gedeel nie. Nie met familie of vriende nie. Ek was bang vir wat hulle sou dink of dat my kind veroordeel of verwerp sou word. En tog was dit so verkeerd. Nou verstaan hulle.

“Ek het snags hardop gebid en God gevra om hierdie siekte op my oor te plaas en my kind te genees.”

“Sy is op medikasie geplaas en dit het aanvanklik baie goed gegaan. Sy het weer deeltyds begin studeer. Stadig maar seker. Sy kon nie lank konsentreer nie, maar het steeds elke vak met onderskeiding geslaag. Sy het ook ’n werk gekry.

"Maar toe begin die newe-effekte van hierdie medikasie intree. Sy is in ’n psigiatriese hospitaal opgeneem.  Vir drie weke. Hierdie hartseer kan ek nie beskryf nie.  Ek het snags hardop gebid en God gevra om hierdie siekte op my oor te plaas en my kind te genees.  

“Maar God het sy wil en sy weë.  Ek kan nie die verwese uitdrukking in my kind se oë vergeet nie. Verwese, hartseer en verworpe. Haar toekomsideale aan skerwe.  Sy het ook haar werk verloor. Ná haar ontslag het sy weer studeer.  Dit het haar besig gehou, en sy het bly droom van ’n goeie werk en haar eie inkomste.  

“Die nuwe medikasie het egter ook newe-effekte begin toon, en weer moes sy in die hospitaal opgeneem word.  Weer al die hartseer en die baie hoekoms en waaroms.  Ek kon die seer en verwarring in my kind se oë lees. Ek het biddend voor God gebly, soms opstandig geraak, maar ek moes sy wil aanvaar.”


“Soms het sy stemme gehoor vanuit die radio - direk aan haar gerig. Soms aangenaam, maar soms dreigend, krities of vreesaanjaend.”

“Dit was hartverskeurend om haar in die hospitaal te besoek. Die stil, starende oë, die hartseer en die verwyte.  Sy wou ook nie hierdie siekte aanvaar nie. Met verloop van tyd het ek geleer haar beskuldigings en agterdog teenoor my en ander, selfs die dokters, is nie my kind nie; dis simptome van die siekte.  Sy kon dit nie help nie. Sy het nie geweet dis alles deel van die siekte nie.

"Soms het sy stemme gehoor vanuit die radio - direk aan haar gerig.  Soms aangenaam, maar soms dreigend, krities of vreesaanjaend.  Sy het geglo daar word op haar gespioeneer of dat ek haar vergiftig.  Sy was baie agterdogtig. Alhoewel dit baie moeilik was, moes ek dit alles aanvaar, want ek het geweet dis deel van die siekte.  

“Nou, reeds byna 10 jaar later, ná vyf maal in ’n psigiatriese hospitaal en weereens op nuwe medikasie, gaan dit baie beter. My dogter droom steeds van ’n werk en haar eie inkomste. Sy droom ook van mooi klere en al die dinge wat jong mense kan koop. Oor haar eie motortjie, oor ’n vakansie iewers . . . maar sy ontvang slegs ’n karige ongeskiktheidtoelaag. En ek kan nie eens elke maand in ons noodsaaklikste behoeftes voorsien nie.  Tog bly dit ’n hartseer wat net ’n ma kan verstaan. ’n Briljante brein, maar ook ’n siek brein.

“Ek het vir haar aansoek gedoen vir verblyf in n groephuis. Ek wil hê sy moet versorg wees wanneer ek die dag nie meer daar is nie. Die staatsbehuising is baie vol, met lang waglyste, en die privaat plekke is baie duur. Intussen leef ons maar in hoop en afwagting vir ’n oplossing.

“Finansieel gaan dit ál moeiliker. Ek moet aanhou werk om ’n staatspensioen en ongeskiktheidstoelaag aan te vul. Dis baie moeilik, maar ek word deurgedra.
Die pad vorentoe? Geloof en genade dra my deur elke dag.”

* Skuilnaam.