Sy kan nie verstaan hoe niemand kon gesien het hoe haar kind doodgery is nie.

[caption id="attachment_169253" align="alignnone" width="600"]Foto: Facebook/Anita Greyvenstein Foto: Facebook/Anita Greyvenstein[/caption]

Sy kan ook nie verstaan hoe die mens wat haar seun doodgery het “hom net so soos ’n hond daar langs die pad kon los nie”.

“Ek kan nie daaroor kom nie. Ek kan nie,” sê sy.

Anita Greyvenstein snik soos sy huil. Dit is vandag ’n maand sedert daardie aaklige dag toe haar man, Sergei, hul seun, Ruan Viljoen (18), se lyk langs die N14-hoofweg naby Jeanlaan in Centurion uitgeken het.

Ruan is dié dag op die middelman van die hoofweg gevind. Hy het die vorige aand by vriende gekuier en op pad huis toe glo beheer oor sy motor verloor. Hy het sy motor gesluit en vermoedelik besluit om na ’n nabygeleë vulstasie te stap om sy ouers te bel.

Dit is toe dat hy getref is. Byna elke been in sy liggaam is gebreek. Die motor wat hom getref het, se kleur het op Ruan se klere agtergebly. ’n Gedeelte van die motor se buffer, wat op die toneel gekry is, het nog van sy denim op. Ruan is letterlik uit sy broek gery.

Dit is erg genoeg dat haar kind “verpletter gery is” en dat “enige ma se grootste vrees om jou kind te verloor” daardie dag vir Anita waar geword het, maar al die vrae en geen antwoorde oor wat met haar kind gebeur het, maak alles dubbel so erg.

Anita en Sergei, wat Ruan grootgemaak het vandat hy nege maande oud was, doen alles in hul vermoë om antwoorde te kry. Hulle het talle motoronderdele opgetel op die toneel waar Ruan gevind is.

Die onderdele wat hulle opgetel het, het Volkswagen aan hulle bevestig is dié van ’n silwer Volkswagen Golf 6 wat tussen 2009 en 2012 vervaardig is.

Anita en Sergei wil nie ander voertuie uitskakel nie, want dit is nie te sê dié is die motor wat Ruan getref het nie “want daar gebeur baie ongelukke op daardie pad”.

Hulle het ook by Sanral beeldmateriaal gekry van voertuie wat rondom die tyd van die ongeluk, in die vroeë oggendure van Sondag 19 Maart, deur die tolhekke gery het. Hulle wil deur die beeldmaterial gaan in die hoop om ’n voertuig te sien wat aan hul beskrywing voldoen.

Daarby het hulle ook ’n hofbevel gekry om selfooninligting by Vodacom, Cell C, MTN en Telkom te kry van mense wat in daardie tyd naby die selfoontorings naby die toneel was.

Want al wat Anita wil hê is iemand wat iets gesien het. ’n Duikklopper wat ’n beskadigde motor moes herstel. Enigiemand met enige leidraad om vir hulle meer duidelikheid te gee oor haar kind se dood.

“Elke ma se grootste vrees is dat jou kind doodgaan,” sê Anita, wat nog ’n jonger dogter het.

“As jou kind kanker het, het jy tyd om voor te berei. Maar as jou kind vermoor en soos ’n hond langs die pad gelos word . . . ek kan nie daarmee deal nie.

“Dit is godsonmoontlik dat niemand iets gesien het nie. Dit is ’n besige pad. Al sê die mens Ruan het oor die pad gehardloop en hy het hom nie gesien nie. Maar nee. Hy het Ruan daar langs die pad gelos en weggejaag.”

Vir Anita was Ruan haar alles. Haar hele lewe.

Ruan sou sy lewe begin. Hy het pas met ’n oorbruggingskursus by Varsity College begin nadat hy verlede jaar sy skoolloopbaan by die Afrikaanse Hoër Seunskool voltooi het. Ruan se plan was om sakestrategie te studeer.

Sy draadjies is ’n paar weke voor sy dood verwyder. Hy het lekker saam met vriende gekuier.

“Binne ’n oogwink het alles verander,” sê Anita. “Ek loop verby sy kamer en hy is nie daar nie.

“Pleks van vier borde kos opskep, skep ek nou net drie borde op. Pleks van twee lekkers koop, koop ek nou net een.

“Ruan het so baie vriende gehad. My huis was altyd vol kinders. Nou is my huis leeg.”