Sheriff Rusty Hiërholzer van Kerrville, Texas, beskryf dit as een van die grusaamste gevalle van kinderverwaarlosing waarmee hy in sy loopbaan wat oor 37 jaar strek, te doene gekry het.

Amanda Hawkins (19) en haar vriend (16) het die aand van 6 Junie saam met ander in ’n nabygeleë huis gekuier terwyl die kinders in die motor gelaat is. Die vriend het na bewering wel vir ’n tydjie in die motor gaan slaap, maar weer na die huis teruggekeer. Maar sonder die dogtertjies.

Hulle het op 7 Junie het met die twee dogtertjies by die Peterson mediese sentrum opgedaag. Hul toestand het so verswak dat die twee na die Universiteitshospitaal in San Antonio oorgeplaas moes word.

Die kleuters, intussen as Brynn Hawkins (1) en Addyson Overgard-Eddy (2) geïdentifiseer, het egter Donderdagmiddag beswyk.

Amanda het aanvanklik aan die hospitaalpersoneel vertel dat sy, haar vriend en die twee dogtertjies “blomme by Flat Rock-meer gaan ruik” het. Op pad terug huistoe het Brynn, en toe Addyson, hul bewussyn verloor.

Die polisie het egter nie Amanda se weergawe net so aanvaar nie. Verdere ondersoek het getoon dat die twee dogtertjies doelbewus oornag in haar motor gelos is.

Luidens berigte het mense in die huis die kinders daardie nag hoor huil, maar ook niks daaraan gedoen nie.

Toe Amanda hulle die volgende dag uit die motor gehaal het, het sy die twee verskeie kere gebad voordat sy en haar vriend hulle hospitaal toe geneem het. Sy wou glo nie in die moeilikheid beland nie.

Altwee word nou aangekla daarvan dat hulle die dogtertjies alleen gelaat het of in gevaar gestel het. Daar word beweer dat temperature deur die dag rondom 32 °C gehaal het.

Tawny Morgan, ’n familielid het op Facebook in die bres getree vir Amanda se ouers.

“My oom Travis en tannie Alicia het haar goed grootgemaak. Dit is nie net hartverskeurend vir ander nie, maar vir ons as familie is dit afgryslik. Bid asseblief vir haar ouers as hulle verdien hierdie beslis nie.”