Op 16 Junie het Jan Hendrik van Wyk (29) in die Krugersdorp-tronk beswyk. Hy was een van twee gevangenes wat onder raaiselagtige omstandighede aan vermoedelik ’n dwelmoordosis gesterf het.

Een van die laaste briewe wat hy geskryf het, is deur ’n familielid, Debbie Cronjé, met Krugersdorp News gedeel.

Daarin staan onder meer:

“So, ek sluit af om iets van alles na te laat. Mammie, ek het God. Ek is in goeie hande. Ek het jou nodig om die familie in vrede en bymekaar te hou. Dit is my wens dat julle mekaar nie moet seermaak nie. Ek is baie lief vir jou, my pa, broer en suster. Ek is so jammer ek het nie meer tyd saam met julle deurgebring nie. Mammie, ek’s lief vir julle ouens. Koebaai, Mammie.”

Sy familie soek antwoorde oor sy dood. Hoe is dit byvoorbeeld moontlik dat hy dwelms, wat nog te sê genoeg vir ’n oordosis, in die hande kon kry?

Van Wyk was besig om twee jaar tronkstraf uit te dien vir diefstal en die besit van dwelms.

Gevangenisowerhede is glo dronkgeslaan oor hoe vrylik beskikbaar dwelms in dié tronk is, maar daar word beweer die hoë heining om die perseel stuit nie doelgerigte dwelmhandelaars wat hul “handelsware” aan gevangenes wil besorg nie.

Hulle verpak dit glo in balletjies wat hulle bloot oor die heining gooi. Verder word beweer van die bewaarders maak die balletjies bymekaar en versprei dit in die tronk.

Huisgenoot het die woordvoerder vir Korrektiewe Dienste, Manelisi Wolela, om kommentaar genader rondom die beweringe. Daar was egter geen reaksie op die versoek nie.

Bron: kurgersdorpnews.co.za