Kim Kardashian sê dit was die “grootste uitdaging” van haar lewe om die sowat 22 kg te verloor wat sy met haar swangerskap aangesit het.

Die werklikheidstelevisiester se eersteling, North West, is in Junie gebore. Die rapper Kanye West is die pa.

Kim het reeds die gewig afgeskud wat sy met haar swangerskap aangesit het, maar erken dit was allesbehalwe maklik. “Ek kan eerlik sê dit was die grootste uitdaging van my lewe,” het sy aan die kletsprogramaanbieder Jay Leno gesê.

Kim het verduidelik die ekstra gewig tydens haar swangerskap is veroorsaak deur preëklampsie, ’n ernstige toestand wat die bloeddruk opstoot, en dis ook hoekom North ’n maand te vroeg gebore is. “Dit het baie swelling veroorsaak en ek het nie geweet wat aangaan nie. Ek het vandag op die skaal geklim en dit het gewys ek het 22 kg verloor. Dit het my opgewonde gemaak.”

Kim (33) is nie in die maande ná die geboorte gekiek toe sy ’n oefenprogram en streng hoëproteïen-Atkins-dieet gevolg het om gewig te verloor nie, maar ontken dat sy en Kanye weggekruip het. “Ek wou net tyd saam met haar deurbring. Dit was die een keer in my lewe dat ek net ’n blaaskans kon vat en tyd saam as gesin saam kon deurbring – ek, hy en die baba. Ons het albei kraamverlof gevat.”

Die ster van Keeping up with the Kardashians het ook vertel hoe soet haar kleinding is. “Sy huil nooit nie. Sy is ’n perfekte klein engeltjie. Ek hoop sy is so slim en uitgesproke soos haar pa wanneer sy groot is.”

Die nuwe mamma het ook gepraat oor haar en Kanye se trouplanne. Sy het gesê hulle trou dalk “iewers in Parys” en geskimp dat dit dalk volgende somer sal wees.