Itha Kieser het die hartverskeurende nuus op haar Facebookblad bekend gemaak, berig Netwerk24.

“My pragtige kinders, Christian en Aldin, is vanaand saam hul pappa (Heinrich) in ’n motorongeluk oorlede. Op pad terug vanaf Mosambiek. Hulle is nou by Jesus.”

Die slagoffers het in ’n noodlottige ongeluk omgekom toe hulle op pad huis toe was nadat hulle vakansie in Mosambiek gehou het.

Daar heers nog onsekerheid oor waar en hoe presies die ongeluk plaasgevind het.

Die Harlequin-jeugrugbyklub in Pretoria het in die sosiale media hul medelye oor die familie uitgespreek.

’n Gedeelte uit hul inskrywing lui: “Dit is met groot spyt en hartseer dat die klub julle moet inlig oor die heengaan van een van ons o. 13-spelers – Aldin Kieser, met sy broer, Christian, en pa,Heinrich. Ons innige meegevoel met Itha Kieser vir hierdie groot verlies.”

Op Heinrich se Facebookblad is dit duidelik te bespeur dat hy en sy seuns ’n hegte band gedeel het.

Familie en vriende van die Kieser-gesin het hul medelye met en ondersteuning aan Itha in die sosiale media gedeel.