“My kind met MIV speel met jou kind, en jy weet dit nie,” skryf Jenn Mosher op die blog Scary Mommy.

Die fotojoernalis en ma van twee het besluit om haar kinders se MIV-positiewe status ’n geheim te hou uit vrees vir die onkunde en stigma wat met die virus gepaardgaan.

Drie van haar vriende is dood aan MIV-verwante siektes en Jenn en haar man het besluit om ’n kind met die virus aan te neem. “Nadat ons navorsing gedoen en met ander families gesels het, het ons geweet ons sou dit kon doen en dat MIV ’n chroniese siekte is wat jy kan bestuur,” het sy aan Buzzfeed News gesê.

Hulle het twee kinders van die Elim Kids-organisasie in China, wat met MIV-positiewe kinders werk, aangeneem.  “Ons wil vir MIV-positiewe kinders liefde, beskerming en hoop gee deur hulle van ’n gesin, medikasie en opvoeding te voorsien,” staan op hul webtuiste.

“My MIV-positiewe kind word deur die wet beskerm, wat beteken ek hoef nie vir skole, kampe, ouers of enigeen behalwe dokters en tandartse van haar MIV-positiewe status te vertel nie,” skryf Jenn.

“As gevolg van onkunde en die stigma wat met MIV verbind word, het dapper mense hard baklei vir die reg om hul MIV-status geheim te hou. Die moeilikste deel van kinders met MIV grootmaak, is nie om die siekte te beheer nie, maar die vrees vir die stigma wat daartoe lei dat ander hulle uitsluit.”

Help jou kind om MIV te verstaan

MIV staan vir menslike immuniteitsgebrekvirus. Vigs staan vir verworwe immuniteitsgebreksindroom. Dis die laaste fase van die MIV-infeksie. HIV is die virus wat Vigs veroorsaak.

Indien ’n persoon se toetsuitslae positief is, vernietig die MI-virus ’n deel van die immuunstelsel deur die T-limfosiete (T-selle) te affekteer, wat ’n witbloedsel is. T-selle staan bekend as “vegterselle” en help die liggaam om teen kieme en siektes te baklei.

Dit neem baie jare vir die virus om genoeg T-selle te vernietig en siek genoeg te raak en Vigs te ontwikkel.

Daar is verskillende medikasies wat MIV-positiewe mense help om vir baie jare gesond en simptoomvry te lewe. Dit word antiretrovirale middels genoem en dit stel mense in staat om aansienlik langer te leef.

Daar is sowat 40 miljoen mense wêreldwyd wat met MIV of Vigs leef, waarvan 37 miljoen volwassenes en 2,5 miljoen kinders is.

DIE OORDRAG VAN MIV

MIV word versprei deur seksuele kontak, die deel van naalde of spuitnaalde, van ’n swanger vrou na haar ongebore kind en tydens bloedoortappings.

Dié liggaamsvloeistowwe van ’n MIV-positiewe persoon kan MIV oordra: Bloed, semen, preseminale vloeistof, rektale vloeistof, vaginale vloeistof, borsmelk.

Jy kan nie MIV kry deur in dieselfde skoolbus as ’n MIV-positiewe persoon te ry of so iemand se huis te besoek nie. Jy kan dit ook nie kry deur daardie persoon se hand vas te hou nie.

MIV word nie op dié wyse versprei nie: Lug of water, insekte, speeksel, sweet, trane, deur skottelgoed te deel, drukkies of via toiletsitplekke nie.

MIV/VIGS in Suid-Afrika

Suid-Afrika het die hoogste vorokoms van MIV/Vigs ter wêreld, met 6,4 miljoen mense wat met MIV leef en 270 000 MIV-verwante sterftes wat in 2011 aangeteken is.

Reg op privaatheid

Elke Suid-Afrika het die reg op privaatheid, en dit sluit in die reg om jou MIV-status privaat te hou. MIV/Vigs is nie ’n aanmeldbare siekte nie, en MIV-positiewe mense mag nie gedwing word om hul status aan enigeen te openbaar nie. (Dit sluit sekere omstandighede uit, soos wanneer mense aansoek doen om werke in die Suid-Afrikaanse nasionale weermag, die nasionale intelligensie agentskap of die geheime diens.)

Besoek die Vigs-stigting van Suid-Afrika of http://www.aids.gov/ vir meer inligting.

BRONNE: AIDS.ORG.ZA, AIDS.GOV, MG.CO.ZA, MEDIAAIDS.ORG

-        Megan Bursey