Nou word die vraag gevra of haar uitgesprokenheid ’n vorm van snobisme of “vetisme” is. Ja, reg gelees - daar is nou al weer ’n -isme wat aan iets nuuts gekoppel kan word.

Hilary Freeman bly in die noorde van Londen, Engeland en beskryf haarself as ’n “trane-tannie” vir ’n koerant, ’n joernalis en skrywer. En nou het sy besluit sy gaan haar kind van enige oorgewig onderwysers weghou.

Sy het so sterk daaroor gevoel dat sy ’n blog daaroor geskryf het.

Hilary sê alhoewel die jong onderwyseres baie goed en gaaf met kinders was, was sy oorgewig en kortasem. Sy het ook te stadig na Hilary se sin beweeg.

“Watter slegte gewoontes gaan sy my dogter leer? Wie gaan daagliks haar middagete en tee daar kry?

“En wat se boodskap dra dit aan die kinders oor: dat dit normaal is om baie vet te wees?

Aanvanklik het sy glo gesê sy verkies om haar kind in ’n ander kleuterskool te plaas omdat dit vriendeliker en kleiner was. Sy het die ware rede vir die skuif verdoesel omdat sy woede en lasterlike aantygings wou vermy.

Nadat sy wel haar ware gevoelens rondom die oorgewig onderwyseres openbaar gemaak het en glo ook by ’n liederlike bekgeveg op Facebook (ook oor gewig) betrokke geraak het, het Hilary teruggekap.

“My oortreding? ’n Gesonde gewig,” skryf sy in haar blog. Sy erken dit is ’n lewenslange stryd om daardie gewig te handhaaf maar sy kry dit reg deur gereeld te oefen en te let op wat sy eet.

Met verwysing na statistiek rondom gewig in Engeland, voeg sy by: “So, die meerderheid van mense is nou vet: dis banaal, nie uitsonderlik nie.

“Diskriminasie is nooit goed nie, maar so ook nie vetsug nie. Kom ons hou op om dit te verheerlik en pas tough love toe.”

Terselfdertyd spreek dieselfde bekommerde ma wat haar dogter van oorgewig onderwysers wil weghou, egter sterk kritiek uit teen ’n werwingsagentskap wat na kandidate soek wie se voorkoms en ervaring hulle geskik sou maak vir spesifieke poste.

Secretary Affairs sê pront op hul webwerf hulle kombineer menslike hulpbronne met ’n tikkie van ’n modelagentskap.

Die vraag wat nou ontstaan is of Hilary breedvoerig genoeg in haar blog uiteengesit het hoekom sy so sterk oor vetsug voel of het sy figuurlik-gesproke swaargewig vyande gemaak?

Bronne: nzherald.co.nz, nypost.com, dailymail.co.uk