'n Ma is gevind waar sy haar dooie 3-jarige seuntjie op 'n swaai in 'n park stoot, en volgens die polisie kon sy reeds ure lank, of selfs sedert die vorige dag, daar gewees het.

'n Woordvoerder van die polisie het gesê daar was geen sigbare tekens van misdaad nie, maar dit word nie buite rekening gelaat nie.

Volgens die polisie ondersoek hulle die 24-jarige vrou se bewegings gedurende die afgelope klompie dae “om uit te vind wat in haar lewe aangaan, wat gelei het tot hierdie oomblik.”

Die polisie is Vrydagoggend gevra om te gaan kyk na die welsyn van die moeder en kind, en hulle het ongeveer 7-uur die oggend na die park in La Plata, in die Amerikaanse deelstaat, Maryland, gegaan.

Die polisiebeamptes het die seuntjie van die swaai af verwyder en het probeer om noodhulp toe te pas, maar “dit was onmiddellik duidelik dat die kind dood was,” het sy gesê. Daar was geen tekens van trauma aan sy liggaam nie.

Die polisie het die ketting van die swaai se sitplek afgeknip en die liggaam verwyder en dit geneem vir ’n nadoodse ondersoek.

Die vrou, wat nie deur die polisie geïdentifiseer is nie, kon sommige van die polisie se vrae beantwoord voordat sy na 'n plaaslike hospitaal geneem is vir mediese evaluasie.

Bronne: ABC7news, Fox News