“Wat? Sê gou weer?” Dis hoe Carri Kessler, ’n nuwe ma van Maryland in Amerika, se vriende en familie gereageer het toe sy hulle vertel wat haar pasgebore dogtertjie se naam is.

[caption id="attachment_133826" align="alignnone" width="600"]xx Carri Kessler moes noodgedwonge haar baba se naam verander na niemand dit kon uitspreek nie. Foto: Facebook[/caption]

Carri en haar man, Will, het hul eersteling Ottilie genoem nadat sy versot geraak het op die naam wat sy by ’n vriend in Engeland gehoor het.

Die paartjie was egter byna onmiddellik spyt oor hul besluit. Omtrent elke vriend en familielid wat hulle raakgeloop het, was totaal oorbluf deur die kleinding se ongewone naam.

“Om haar aan mense voor te stel, het my angstig gemaak,” het Carri in ’n onderhoud aan Today gesê. “Ek het besef ons gaan haar heeltyd aan mense moet voorstel. Hierdie gaan vir altyd ’n probleem wees.”

Aanvanklik het Carri en Will mense aangeraai om hul dogter se naam in ’n Britse aksent uit te spreek, want dan “klink dit regtig goed”. Maar aangesien sy en haar hele familie Amerikaans is, het dié oplossing gou deur die mat geval.

Ses weke ná Ottilie se geboorte het Carri die skoknuus gehoor dat haar ouma nie haar agterkleinkind se naam kan onthou nie. Sy moes glo Post-it-notas oral in haar huis opplak om haar aan Ottilie se naam te herinner.

Nog ses weke later kon Carri dit nie meer hanteer nie. Byna almal wat hulle teëkom het Ottilie se naam verkeerd uitgespreek. Sy het eindelik besluit om vir Will te sê hoe sy voel – en hy voel toe dieselfde.

Die paartjie sit toe koppe bymekaar en bedink ’n naam, “enigiets eenvoudig” wat hulle nie “angstigheid” sal gee nie. Ná vele oordenking het Carri en Will besluit Ottilie sal voortaan as Margot bekendstaan.

Die volgende tameletjie was om al hul familie en vriende in te lig dat die naam wat hulle die afgelope drie maande gesukkel het om te onthou en uit te spreek, verander het.

Carri se kitsoplossing was ’n e-pos aan al hul vriende: “Hei, onthou julle vir Ottilie? Haar naam is nou Margot!”

Die naam is glo baie goed ontvang.

Bronne: Metro.co.uk; Today.com