Sandra Kay Sutton (46) is saam met haar seun, Zachary (17), in ’n huis in Clinton, Missouri, dood aangetref. Sandra se voormalige kêrel, James Horn jr. (47), word nou gesoek. Hy word van moord verdink en dat hy haar in die boks toegesluit het. Die lyke is gekry toe familielede ná werk by die huis kom, het die polisie gesê. Op 30 April het Sandra aan die polisie gesê James het haar oor ’n tydperk van vier maande gereeld in ’n boks in hul huis in Sedalia, Missouri, toegesluit.

James is later aangekla van ontvoering, gewapende misdadige optrede en die onwettige gebruik van ’n wapen, maar is sedertdien op vrye voet.

Die boks waarin James Sandra na bewering aangehou het, was 254 cm lank, 114 cm breed en 132 cm diep, luidens ’n speurder se verklaring.

Sandra het aan die polisie gesê James het haar met ’n lang mes gedwing om hom die boks te help bou.

Sy is daarin toegesluit wanneer hy nie by die huis was nie, vrygelaat wanneer hy van die werk af gekom het en gedwing om met hom seks te hê, het die polisie gesê.

James is ’n geregistreerde seksoortreder weens skuldigbevindings in 1993 in Tennessee, volgens ’n aanlyn register van die grootpadpatrollie van die staat Missouri.

Hy is daaraan skuldig bevind dat hy sy vervreemde vrou in Mississippi ontvoer en gewurg het en het 10 jaar in ’n federale tronk uitgedien.

Bronne: Sky News, CBS News