’n Vrou van Somerset-Wes wat Vrydagmiddag huis toe gery het nadat sy goeie nuus van haar dokter ontvang het, se dag is erg versuur toe sy op die N2-snelweg aangeval is.

Anneke van der Vyver en haar dogter, Rianka (20), het Vrydag net voor 16:00 in verkeer naby die afrit na die Kaapstadse Internasionale Lughawe vasgesit toe twee mans hul motor nader, berig Netwerk24.

Een van die mans het die motorruit aan die bestuurder se kant met ’n stuk beton stukkend geslaan. Hy het oor Anneke se lyf begin soek na iets soos ’n selfoon om te buit.

“Rianka het geskree en sy hande geslaan. Ek het probeer keer dat hy my wurg met die serp wat ek om my nek gehad het," vertel Anneke aan die nuusblad.

"Toe hy niks kry nie het hy laat los en weggehardloop. En daar sit ons verwese en geskok. Vol bloed en vol glas.”

Met ’n bebloede oog het sy by ’n verkeerspolisiekantoor langs die snelweg gestop.

Anneke, wat verlede week ’n borsondersoek gehad het, het Vrydag die goeie nuus ontvang dat sy kankervry is.

Die Safe N2-projek het ook op hul Facebookblad ’n waarskuwing gedeel en mense oor die voorval ingelig.

Volg hierdie wenke van Women on Wheels as jy bestuur:

  • Maak seker jou motor is te alle tye gesluit en maak seker jou vensters is nooit heeltemal oop nie, veral nie as jy naby kruisings en stopstrate kom nie.
  • Maak seker jy handhaaf ’n goeie volgafstand. Daar moet genoeg plek tussen jou en die motor voor jou wees sodat jy vinnige kan uitdraai of wegry as jy kapers sien.
  • Wees heeltyd bewus van wat rondom jou aangaan.
  • Moenie op jou selfoon besig wees wanneer jy bestuur nie. Ook nie as jy stilhou nie. Dit trek jou aandag af. Jy kan ’n ongeluk veroorsaak, maar dit maak ook dat jy nie oplet na wat rondom jou motor gebeur nie.
  • Sit waardevolle items agter in jou kattebak.

Hou die N2-noodnommer byderhand as jy op dié berugte snelweg ry: 0800 656 463

En meld voorvalle aan by Arrive Alive: 0861 400 800