Die Kaliforniese ma het Paul (nou sewe) na ’n dokter gebring en dié het gesê dis ’n staphylococcus-infeksie, sê die Mail Online. Die algemene praktisyn het Paul ’n antibiotikum gegee en gesê hulle moenie die vreemde groeisel stukkend druk nie.

Maar toe dit swart word en etter daaruit begin sypel, het Rachel teen die dokter se aanbeveling in gedreineer.

Sy was geskok oor dit waarop sy afgekom het, maar Paul was heel ingenome.

“Ek staar na hierdie voorwerp en dit lyk vreemd,” sê sy tydens ’n episode van Discovery Channel se Monster Inside Me. “Ek het besef dit is nie ’n klip nie. Dit het draaie op.

“Ek keer dit om en ek dink – ek het dalk hardop gelag. Ek het gesê: ‘Paul, dit is ’n slak. Dis ’n verdomde slak’.”

Paul se pa, Ken, dink dit het in sy seun se been beland nadat hy op ’n nes slakeiers op die strand geval het.

Die weekdier het in die weefsel bo Paul se knie gegroei. Dit het begin sweer en swart word omdat sy liggaam se immuunstelsel die vreemde voorwerp verwerp het.

Die diertjie is ’n littorina scutulata, verduidelik die bioloog Dan Riskin op die TV-program. Dit is ’n soort seeslak wat in uiteenlopende temperature en waters kan oorleef.

Paul het die slak sedertdien Turbo genoem. Hy bly nou in ’n tenk saam met Paul se troetelvis, Dory.

Bronne: Mail Online, CNN, Yahoo