Moederskap ongesensor.

“Dit is moederskap: die rou, asemrowende, morsige en deksels skreeusnaakse dele daarvan, almal in een,” begin Amanda Bacon se Facebook-plasing, tesame met ’n foto van ’n vrou in ’n “reusagtige ma-doek”.

Die nuwe ma het die sosiale netwerk ingespan om die rou en ongesensorde waarheid oor die nadraai van die lewe skenk te deel.

“Dit is ’n ongelooflike ondervinding om ’n baba in die wêreld te bring, en daar word nie genoeg gepraat oor die werklikhede van nageboortelike lewe nie,” skryf sy in die plasing, wat soos ’n veldbrand versprei het.

“En beslis nie genoeg gefotografeer nie. Sommige mense kan dit moontlik as ongemaklik ervaar, maar hoekom? Ek verstaan dit werklikwaar nie!

“Dit is moontlik omdat daar nie hieroor gepraat word nie. Ons behoort almal te probeer om oor elke aspek van kindergeboorte voorligting te gee, dit te bemagtig en te omarm, insluitend oomblikke soos dié. En doen dit met ’n humorsin. Daar is niks wat moederskap so duidelik welkom heet soos ’n pragtige, papsagte baba en ’n reusagtige ma-doek nie.”

Die plasing, wat geloof is vir sy brute eerlikheid, het sedert dit twee dae gelede geplaas is, reeds meer as 457 000 reaksies gekry en dit is byna 117 000 keer gedeel.

“Heilige. Dekselse. Snert,” was Amanda se reaksie op die terugvoering ten opsigte van haar plasing.

“Ons albei is duidelik oorstelp van vreugde oor al die liefde, ondersteuning en vriendelike woorde.

“Bly julle kan almal deel in die humoristiese oomblik van my en Ken (die eggenoot) en dat julle die skreeusnaakse, rou mooiheid wat die lewe ná geboorte behels, kan waardeer.”