Op die video kan gesien word hoe die oppasser, van Indiana in Amerika, ’n sewe maande oue baba by die Greenwood Splash Pad onder ’n emmer laat sit. Nadat die emmer water op die kind uitgestort word en sy huilend van die water sluk, tel die oppasser haar op.

Die video is versprei nadat ’n ontstoke omstander, Desiree Howell, dit op haar Facebook-blad gedeel en bygeskryf het: “Jy maak seker ’n grap!”

Sy het gevoel die oppasser mishandel die kind en gesê sy bid die baba sterf nie in haar slaap nie. Dit wil voorkom of die oppasser op die kind geskree het om op te hou huil.

Desiree het gereageer deur te sê huil is deel van kindwees en dat sy gehoor het die baba is net sewe maande oud. “En nie hare nie! Deel, deel, deel!” sluit sy die boodskap af.

Lees ook: Oppasser wat seun ‘mishandel’, aangekeer ná aanlyn woede

Desiree, wat die park saam met haar eie kinders besoek het, het gesê sy het ook gesien hoe die oppasser die kind dwing om kaalvoet op die warm plaveisel te loop en hoe sy haar in ’n hoë swaai gesit het wat die meisietjie se kop agtertoe “geruk” het.

Desiree het die polisie gebel en toe die video op Facebook gedeel met die hoop dat die oppasser geïdentifiseer sou word. Binne enkele ure is vasgestel wie sy is.

Brittany Dixson, die baba se ma, het gesê sy het histeries gehuil en gebewe. Ná ’n hospitaalbesoek is vasgestel die baba buite gevaar is, maar dokters het Brittany gewaarsku sy het moontlik ? “droë verdrinking” ervaar.

Die oppasser is intussen afgedank en al is sy nog nie amptelik in hegtenis geneem nie, is die saak na die departement van kindersorg in Indiana verwys vir verdere ondersoek.

Bronne: facebook.com, indystar.com