’n Skadevergoedingseis van minstens R6 miljoen vir die “onregverdige lyding” van ’n kind wat met Down-sindroom gebore is, is in die grondwetlike hof aangehoor, het The Times Vrydag berig.

Die ma, wie se identiteit geheim gehou word om die kind s’n te beskerm, wil hê die Fetal Assessment Centre (FAC) in Claremont, Kaapstad, moet skadevergoeding betaal omdat hulle nie raakgesien het haar seun het ’n “baie hoë risiko” vir Down-sindroom nie, lui die berig. Dit sê ook sy sou die fetus aborteer het as sy van die risiko geweet het, en sy voel die FAC moet die koste van die kind se versorging dra.

Die hooggeregshof in Kaapstad het vroeër vanjaar die vrou se aansoek van die hand gewys, en die sentrum in Claremont het die aansoek teengestaan.

Met verwysing na regspraak het die hooggeregshof genoem so ’n eis – wat van ’n hof sou vereis dat hulle bepaal of ’n kind gebore moes word – “raak die kern aan van wat dit is om ’n mens te wees, (iets wat) nie van die reg gevra moet word nie”.

Maar in die grondwetlike hof het die ma ontken dat sy haar eis op “onregmatige lewe” grond, maar eerder aanspraak maak op “onregverdige lyding”.

Sy het gesê pleks dat die hof oorweeg of haar seun gebore moes word, moet hulle bepaal of die FAC se beweerde nalatigheid moet lei tot die betaal van skadevergoeding, is berig.

Uitspraak is voorbehou.