’n Gautengse ma dagvaar die onderwys- en gesondheidsdepartement nadat hulle haar dogter sonder haar toestemming ’n inenting teen servikale kanker gegee het, het die Sowetan Maandag berig.

Die vrou se negejarige dogter is huis toe gestuur; sy het ná die inenting teen die menslike papilloomvirus begin braak en aan diarree gely.

Sy het ’n week in die hospitaal deurgebring.

“Ek kan bevestig dat regstappe ingestel is,” sê Twantso Melato, die ma en dogter se prokureur.

Die gesondheidsminister, Aaron Motsoaledi, het in Maart ’n veldtog van stapel gestuur om alle gr. 4-meisies in te ent.

Hy het gesê negejarige meisies is gekies omdat dit die beste is om in te ent voor die virus ’n probleem word.

Die ma sê sy het nie die toestemmingsbrief  aan die skool teruggestuur nie.

’n Woordvoerder van die onderwysdepartement, Phumla Sekhonyane, sê hulle het nog nie ’n dagvaarding van die vrou se prokureur ontvang nie.

Die provinsiale gesondheidsdepartement het nie kommentaar gelewer nie.