Monique Jeffrey, van Melbourne, Australië, het in Maart 2012 op haar bed gelê toe sy skielik nies, haar nek vorentoe ruk, en dit haar nekwerwels laat knak.


Monique se pasgebore baba was in die vertrek langsaan en sy kon skaars beweeg. Sy kon darem ’n teksboodskap, “Help!”, aan haar man, Sam, stuur. Hy het hom van die werk af huis toe gehaas en ’n ambulans ontbied.


Monique was 14 weke in ’n halo-stut, ’n toestel wat in die skedel ingeboor word terwyl die pasiënt wakker is. Dit word gebruik om die werwels te herskik.


Dié hotelbestuurder het heeltemal herstel. Sy het daarna by familie gebly wat na haar en haar seun, Thomas, omgesien het.


Die ongeluk het egter in April vanjaar weer gebeur toe Monique haar nek op presies dieselfde plek breek.


Monique, nou 33, het vertel: “My nek was seer en ek was by die werk.

“Ek het my lyf ’n bietjie uitgestrek by my lessenaar toe ek ’n skerp pyn voel, maar kon nog beweeg. Ek het egter ’n teksboodskap aan my man gestuur en gesê my nek voel onstabiel.


“Ek het ongeveer ’n uur later saam met ’n kollega in die personeelkamer oor ’n grap gelag toe dit weer gebeur. My kop het na regs vasgesteek, baie soos die vorige keer.


“Ek het presies geweet wat gebeur het. Die pyn was werklik erg en die werk het ’n ambulans ontbied. Ek het ’n CT-skandering en ’n magnetieseresonansiebeelding (MRI) ondergaan ten einde te bevestig dat dit dieselfde twee werwels is.”


Monique se beserings het die dokters heeltemal verstom. Hulle het aan haar gesê hulle het nog nooit tevore so iets teengekom nie.


“Noudat dit twee keer gebeur het, is daar ’n baie goeie kans dat dit weer kan gebeur, maar ons probeer fisioterapie om my nekspiere te versterk en dit stabiel te hou,” sê Monique.


“Indien dit weer gebeur, sal ek ’n hoërisiko-operasie moet ondergaan om my nekwerwels te laat saamsmelt.”


Monique sterk nou vir die tweede keer met ’n halo-stut tuis aan by haar man, haar seun, Thomas, wat nou 6 jaar oud is en haar dogtertjie, Macy (2). 


“My lewe is tans so anders. Ek het vier dae per week gewerk toe dit gebeur, en nou kan ek nie werk voor ek nie herstel het nie.


“Daar is geen familie naby nie, dus laat vlieg ons elke week familielede hierheen om met die twee kinders te help sodat my man kan gaan werk.


“Lag of nies is taboe! Ek moet nou heeltyd versigtig wees.”


Monique se suster het ’n GoFundMe-bladsy saamgestel om met die mediese koste te help.


– Magazine Features