Bryony Esther, ’n ma van drie, het haar Facebook-vriende aangemoedig om die selfie te deel.

Op die foto kan duidelik gesien word hoe Bryony staan en borsvoed terwyl talle mans rondom haar sit. Een sit boonop in die sitplek vir gestremdes!

By haar inskrywing op Facebook het sy geskryf die passasiers rondom haar was besig om “pille te rol”. Sy het ook uitgewys dat ’n fietsryer homself op die gestremdes se sitplek tuisgemaak het.

’n Gedeelte uit die inskrywing lui: “Om in ’n trein te staan en my baba te borsvoed danksy die lieflike klomp wat meer prioriteit gee aan hul tasse en om pille te rol! Dit stink.”

Bryony het haar aanhangers versoek om die inskrywing te deel sodat hierdie mans se ma, meisie en/of vrou kan sien hoe hulle hulself in die openbaar gedra.

Die inskrywing is intussen van Facebook verwyder.

Bryony se inskrywing het baie positiewe, maar tog ook negatiewe kommentaar ontlok.

Een gebruiker wou ontsteld weet: “Sies, is daai kind nie te oud om steeds geborsvoed te word nie?”

’n Ander een het Bryony tereggewys en gesê sy moet liewer vir haar ’n voertuig aanskaf!

Nog ’n gebruiker het haar nare ervaring gedeel: “Ek het al op ’n tas in die deur van ’n trein gesit en borsvoed. Niks skok my meer nie. Sommige mense is gewoon onkundig. Ek is so trots op jou, Bryony Esther, dat jy ’n standpunt ingeneem en hierdie ding openbaar het. Jy is ’n heldin.”

Bryony se inskrywing is meer as 26 000 keer gedeel.

Bronne: Metro.co.uk, Daily Mail, Facebook