Palesa Kwayiba het geen gevoel in haar onderlyf nie en het die gebruik van haar bene verloor. Sy is gesond gebore, maar het op drie weke siek geword en is opgeneem in die Rooikruis-kinderhospitaal, waar ’n spinale defek by haar gediagnoseer is.

Haar ma, Zandile Kwayiba, sê sy doen alles in haar vermoë om haar dogter en haar twee jonger kinders te versorg, maar sukkel om te werk omdat sy Palesa moet versorg. Sy is afhanklik van maatskaplike toelae.

“Daar was dae wat ek van huis tot huis moes gaan om kos te vra, want ek het nie geld gehad om my kinders te voed nie. Palesa se pa het die gesin verlaat toe hy uitvind van haar toestand en ek het sedertdien nog nooit weer van hom gehoor of hom weer gesien nie,” sê Zandile.

“My grootste uitdaging op die oomblik is haar vervoer skool toe en haar rolstoel. Sy gaan voltyds skool toe, maar het die afgelope ruk klasse gemis weens onbetroubare vervoer.”

Probleem met rolstoel

Palesa se rolstoel, wat geleen is by haar skool, die Tembaletu Spesiale Skool in Gugulethu, is nie meer in ’n goeie toestand nie. Die rubber aan die wiele is verslete, die opstopsel bars uit die nate en die rugleuning is stukkend.

Tembaletu verskaf ’n taxi wat kinders met spesiale behoeftes vervoer. Zanile betaal R250 per maand vir die diens, maar die taxi ry nie tot in die Barcelino informele nedersetting, waar die gesin al 13 jaar woon, nie.

“As dit reën, kan ons nie stap tot by die pad om daar te wag nie,” het sy aan GroundUp vertel.

Die gesin se plakkershut is ’n paar minute se stap teen ’n heuwel tussen ander plakkershutte en maklik bereikbaar per motor. Maar die rolstoel ry nie maklik oor die sanderige pad nie omdat dit ongelyk en nat is weens lekkende krane in die omtrek, en dis nog erger wanneer dit reën.

Die toestand van die pad en die rolstoel veroorsaak dat Zandile sukkel om Palesa te stoot na die optelpunt in NY108, sowat 500m weg.

Palesa het ’n beter rolstoel gehad, wat die Rooikruis-kinderhospitaal verskaf het, maar dis gesteel terwyl haar ma haar tot in die taxi getel het.

Palesa het nog ’n rolstoel wat tydens die verkiesingsveldtog vroeër vanjaar aan hulle geskenk is, maar dis te groot vir haar. Haar arms kan nie by die wiele bykom nie en daar is nie behoorlike ondersteuning vir haar rug nie.

Daar is geen toilette naby die gesin se plakkershut nie en hulle moet die bure se toilet gebruik.

Rotte is ook ’n groot probleem.

“Ek moet seker maak ek slaap met die lig aan en moet heeltyd kyk of Palesa oukei is, want sy kan nie voel as die rotte of muise haar byt nie,” sê Zandile.

Ten spyte van al die swaarkry is Palesa ’n energieke, borrelende 14-jarige wat alles waardeer wat haar ma vir haar doen. “My wens is dat ons ’n behoorlike huis kan kry en dat ek ’n rolstoel kan kry,” sê Palesa.

Palesa bekommer haar voortdurend dat sy laat gaan wees vir skool, en sê: “Soms gaan ek nie eens skool toe nie omdat die vervoer my nie kom oplaai nie.”

Bron: News24