Amy is in Julie 2011 op die ouderdom van 27 aan alkoholvergiftiging dood; sy sou in September vanjaar 30 geword het.

Janis het gesê: “Wanneer ek daaraan dink dat Amy vanjaar 30 sou word, voel dit net nie reg nie. Ek sê nie ek het geweet dit gaan gebeur nie, maar ek was nie juis verbaas nie. Ek kon my Amy nooit as ’n ouer persoon voorstel nie. Sy was hierdie jong meisie wat die wêreld soos ’n klapper getref het, dan het sy weer die pad gevat. Amy was nooit bestem om 30 te word nie.”

Janis glo haar dogter het verveeld geraak met dieselfde liedjies oor en oor sing en hou vol die sangeres, wat gesukkel het met alkohol- en dwelmverslawing, het altyd geglo sy is onsterflik.

Sy het verduidelik: “Amy het vordering gemaak. Sy het haar dwelmverslawing geklop, maar ek weet sy was verveeld – verveeld daarmee om oor en oor dieselfde liedjies by al haar konserte te sing. In die hiernamaals het Amy waarskynlik haar ouma teëgekom, wat met haar sou geraas het omdat sy nie haar dolle leefstyl aangepas het nie. Amy sou waarskynlik antwoord: ‘Oeps, dit was nie my bedoeling nie.’

“Ek dink sy het haarself verras; sy het waarskynlik geglo sy is onsterflik.”

Janis, wat aan veelvuldige sklerose ly, het haar dogter enigiets laat eet wat sy wou omdat sy nie krag gehad het om haar teë te gaan nie, maar die afgetrede apteker (58) dink tog Amy het later soos ’n “konsentrasiekampslagoffer” gelyk omdat sy soveel ekstreme diëte gevolg het. Sy het aan The Sun gesê: “Haar houding teenoor kos was nogal ontstellend, want sy was altyd op die een of ander verskriklike dieet. Sy sou byvoorbeeld sê sy het ’n ‘goeie’ dieet gekry – sy kou die kos en spoeg dit dan uit. So saans het sy KFC gekoop . . . en dit uitgespoeg.

“Sy het later soos ’n stokkie gelyk, soos iemand wat in ’n konsentrasiekamp is. Ek weet nie of ek haar anders sou grootmaak as ek nie veelvuldige sklerose gehad het nie. Ek sou beslis meer energie gehad het om Amy teen te gaan.”