“(Abigail) het gedink hy versorg en sien om na haar kinders. Sy’t vir my gesê: ‘Pa, ek het hom met my baba vertrou. Ek het hom met my seun vertrou,’” het die emosionele kerkman gesê nadat sy dogter in die beskuldigdebank verskyn het. 

Abigail Ruiters en Ameeruddien Peters word aangekla van die moord op die 18 maande oue Jeremiah, Abigail se jongste seun.

Die seuntjie is twee weke gelede begrawe. Ruiters, wat agter tralies is hangende haar borgtogaansoek, is nie toegelaat om die begrafnis by te woon nie.

Die kleuter is in Junie in ’n kliniek in Kensington dood verklaar nadat hy ernstige beserings aan sy kop en lyf opgedoen het. Hy was ten tyde van sy dood in Peters se sorg terwyl Ruiters as kassier by ’n groothandelaar gewerk het. 

Nog ’n aanklag ingevolge die Kinderwet staar Ruiters in die gesig, en Peters word aangekla van verkragting.

Ruiters het gelate voorgekom toe sy langs haar kêrel in die beskuldigdebank staan, terwyl hy tydens die verrigtinge na die grond gestaar het.

Die paartjie het kortliks voor landdros Joe Magele verskyn, waar hul regshulpprokureur, Thaana Abrahams, gevra het dat die saak uitgestel word om toe te laat dat nog ’n prokureur by hul aansluit.

Sy het aan die hof gesê dit sou ’n belangebotsing veroorsaak om albei te verteenwoordig, en Magele het die saak tot 12 Julie uitgestel.

'Goeie ma'

Past. Ruiters het sy dogter ondersteun omdat hy glo sy is nie ’n ma wat haar kinders verwaarloos nie.

“Sy was ’n broodwinner. Sy het altyd die beste vir die kinders gekoop. Sy het deur die plaaslike begraafplaas geloop om by die werk uit te kom. Dít is ’n aanduiding dat sy ’n goeie ma is,” het hy gesê.

Peters, wat werkloos was, het na Jeremiah en Ruiters se twee ander kinders omgesien, het die pastoor gesê. 

“Ek het gevrees (vir die ander twee kleinkinders) toe ons hoor Jeremiah is verkrag. Hul grootouers het hulle na die distriksgeneesheer by die Rooi Kruis-kinderhospitaal geneem en daar was geen tekens (van verkragting) nie.”

Hy het sy kleinseun se begrafnis, wat op Saterdag 1 Julie gehou is, as ’n moeilike ervaring beskryf.

“Ek het foto’s wat by die begrafnis geneem is na haar geneem en alles (wat gebeur het) verduidelik. Sy het gehuil en was baie emosioneel. Ek het haar gevra om sterk te wees.”

Past. Ruiters is bekend as kinderregte-aktivis in sy gemeenskap en het al talle begrafnisse waargeneem van jong slagoffers van geweldsmisdade, waaronder dié van Celine Cowley (4), wat in Augustus 2006 in Ravensmead seksueel aangerand en doodgesteek is, en Nadine Jantjies (7) wat in 2009 in Wesbank verkrag en verwurg is.

- News 24