Hayley West en haar man, Tobias Richardson, was Donderdagoggend besig om voor te berei op haar swaer Seth se begrafnis by ’n skoolgebou in die Blue Mountains-gebied wes van Sydney toe die beweerde motordief toeslaan. “Terwyl ons in die voorportaal staan en gesels het en een van die begrafnisondernemers ’n trollie gekry het om die kis op te laai, het ’n man agter ’n struik uitgespring en in die lykswa geklim,” het Hayley aan die radiostasie ABC gesê.

'Ons was almal net stomgeslaan.'

“Die begrafnisondernemer het op die venster gehamer en gesê: ‘Wat doen jy? Jy kan nie ’n lykswa steel nie.’”

“Ons was almal net stomgeslaan.”

Tobias het in sy eie motor geklim om die dief agterna te sit terwyl Hayley die polisie ontbied en ’n ontstelde skare die jaagtog dopgehou het.

Die man het met die lykswa by ’n skool ingery, terwyl Tobias sy motor gebruik het om die lykswa tot stilstand te dwing, het Hayley en Nieu-Suid-Wallis se polisie gesê.

“Tobias het uitgespring en die man gevra wat hy doen,” het Hayley gesê. “Die man het gedwee gesê hy moet hospitaal toe gaan.”

Die polisie het vyf minute later opgedaag om die 49-jarige man weg te neem. Hulle het bygevoeg hy ly aan demensie en het vroeër die dag ’n verpleeginrigting verlaat.

“Die vermiste 49-jarige is op die toneel in hegtenis geneem en hospitaal toe geneem vir assessering,” het die polisie in ’n verklaring gesê.

“Die polisie sal na verwagting geen verdere stappe doen nie.”

Hayley het gesê die begrafnisdiens het agterna voortgegaan soos beplan en die oorledene, Seth Richardson, sou die ligte sy van die situasie kon sien.

“Hy sou gedink het dit is skreeusnaaks.”