Skoonmakers het Sondag laat die grusame ontdekking gedoen toe hulle besig was om een van Qatar Airways se Dreamliners-vliegtuie kort ná aankoms in Djakarta skoon te maak. Hulle het die lykie van ’n vroeggebore baba, toegedraai in sneespapier, in die vliegtuig se toilet gevind. Die ouderdom van die fetus word op tussen vyf en sewe maande geraam.

Dit is in hierdie stadium onseker of die baba reeds dood was voor aan boord gegaan is en of die baba tydens die vlug gesterf het. Dit is ook onduidelik of dit ’n gedwonge of natuurlike geboorte was.

’n Vrouepassasier, vermoedelik ’n Indonesiese trekarbeider, gaan weldra deur die polisie in verband met die voorval ondervra word. Daar is nog nie ’n aanduiding wat die verband tussen haar en die baba is nie.

Midde-Oosterse lande soos Katar, Saoedi-Arabië en Bahrein is gewilde bestemmings vir Indonesiese werkers, veral vroue wat as skoonmakers werk en hul geld na hul familie in Indonesië stuur.

Aborsies is onwettig in Indonesië, behalwe waar die ma se lewe in gevaar is. In gevalle van verkragting of fetus-abnormaliteit kan aborsies tot en met ses weke goedgekeur word. Dit verhoed egter nie dat vroue onveilige keuses rondom aborsie uitoefen nie.

Luidens berigte verkies sommige dokters en klinieke ook om nie ongetroude vroue te help nie.

Bronne: channelnewsasia.com, afp.com, chinaaviationdaily.com, rappler.com