Marcelin en Francine Dumoulin het op 15 Augustus 1941 die ysige Switserse berge trotseer op pad om hul koeie te melk.

Maar die ma en pa van sewe het glo in ’n skeur geval, waar hulle gesterf en hul liggame vir die volgende 75 jaar gebly het.

“Ons het ons lewe lank na hulle gesoek,” het hul jongste dogter, Marceline Uldry-Dumoulin (79), aan Lausanne se dagblad Le Matin gesê.

“Die nuus het ná 75 jaar van wag vir my ’n diepe kalmte gebring.”

’n Werker op die Tsanfleuron-gletser het naby ’n hysstoel bokant die Les Diablerets-oord op Marcelin (toe 40) en Francine (toe 37) se lyk afgekom. 

Die werknemer van die hysstoelmaatskappy Glacier 3000 het ’n paar mans- en vroueskoene, rugsakke, klein bakkies en ’n liggaamsdeel gewaar.

“Die lyke het naby mekaar gelê,” het Bernhard Tschannen, direkteur van Glacier 3000, aan Tribune de Genève gesê. “Dit was ’n man en vrou in klere wat uit die tydperk van die Tweede Wêreldoorlog dateer. Hulle was volmaak bewaar in die gletser en hul besittings was ongeskonde.”

Gletsers vorm wanneer vallende sneeu oor ’n aantal jare saampers en dik ys vorm.

“Ek dink hulle het dalk in ’n skeur geval waar hul lyke dekades lank vasgesit het. En namate die gletser teruggetrek het, het hul oorskot sigbaar geword,” meen Tschannen.

Hoewel DNS-toetse vir seker sal aandui of die lyke wel dié van die vermiste paartjie is, is daar identiteitsdokumente ook gevind, en die papiere is nog in ’n goeie toestand.

Marcelin, ’n skoenmaker, en Francine, ’n onderwyseres, het vyf seuns en twee dogters agtergelaat.

Hul kinders is ná hul dood geskei en na verskillende gesinne gestuur.

“Dit was die eerste keer dat my ma saam met hom op so ’n uitstappie gegaan het. Sy was altyd swanger en kon nie die moeilike dele van die gletser baasraak nie,” het Marceline gesê.

“Ons kinders is ná ’n rukkie van mekaar geskei en by ander gesinne geplaas. Ek was gelukkig om by my tannie te bly. Ons het almal in die gebied gebly, maar vreemdelinge geword.

“Ek sal nie swart dra vir die begrafnis nie. Ek dink wit is ’n meer geskikte keuse. Dit verteenwoordig hoop, iets wat ek nooit verloor het nie.”

Bronne: Metro.co.uk, TheGuardian.com, Thebusinessinsider.com