[caption id="attachment_165277" align="alignnone" width="600"]Foto: Pexels Foto: Pexels[/caption]

Volgens kapt. FC van Wyk, polisiewoordvoerder, het een van die lyke Dinsdag om 13:50 op Macassarstrand uitgespoel.

Die jong man se familie het op die toneel opgedaag en sy liggaam uitgeken. Die ander student se liggaam is Woensdagoggend op dieselfde strand gevind.

Volgens Van Wyk is twee dossiere geopen vir geregtelike doodsondersoeke.

Die twee jong mans, 19 en 20 jaar oud, het Saterdagmiddag in die branders by die Strand verdwyn tydens ’n besoek saam met die Christelike Studentevereniging (CSV).

Die twee is blykbaar studente aan die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) en die Kaapse Skiereiland-universiteit van Tegnologie (KSUT).

Twee jong vroue wat op dieselfde dag op die plek wat bekend staan as die Pyp – op die grens tussen die Strand en AECI Somerset-Wes – die see ingesleep is, is gered.

Volgens die NSRI het die groep die water binnegegaan by die plek waar swem verbode is, ’n branderrygebied wat bekend is vanweë sy groot golwe en sterk getykolke.

Die see was Saterdag rof, met deinings van 2,5 m tot 3 m hoog, sterk suidoostewinde en swak sig in die water.

’n Uitgebreide lug-, see- en kuslynsoektog het geen teken van die twee studente opgelewer nie.

In ’n verklaring wat die UWK ná die mans se verdwyning uitgereik het, het hulle gesê die een was ’n tweedejaarstudent in die regte en die ander een ’n eerstejaarstudent in meganiese ingenieurswese by KSUT.

Ashley Daswa, streekwoordvoerder vir die CSV in die Wes-Kaap, het verklaar dit is “uiters ontstellend dat die publiek wysgemaak is die studente het hulle onverantwoordelik gedra”.

Bron: News24