Volgens polisieverslae was Rebecca Cade se dood die gevolg van trauma met ’n stomp voorwerp aan die kop en nek. ’n Klip “so groot soos ’n pomelo” vol bloed is naby die lyk gekry.

Die 31-jarige het luidens berigte van haar aanvaller probeer ontsnap nadat sy erg aangerand is. Toe sy oor die heining wou ontvlug, het haar mou aan die lemmetjiesdraad vasgehaak.

“Sy het gesterf terwyl sy aan die heining gehang het,” sê speurder Bud Lytle.

Verskeie bure het haar lyk aan die heining gesien hang, maar gedink dit is ’n Halloween-poets.

“Ek het gedink iemand bak ’n poets vir die bouwerkers en vir my dogter gesê dit is net ’n pop. Dit was so aaklig dat ek gedink het die poets is te ver gevoer,” sê Tammy Dixon.

Dit was eers toe ’n bouwerker die “versiering” wou gaan verwyder het dat hulle besef het dit is ’n regte lyk.

“Ek het net my hande oor my gesig gesit en gesê: ‘Dit kan nie hier gebeur nie, dis nie eg nie, en ek het eenvoudig nie gesien wat ek gedink het ek gesien het nie’,” vertel Tammy.

Donnie Cochenour jr. is in verand met die moord in hegtenis geneem. Hy het na bewering aan die polisie erken hy en Rebecca het voor die voorval rusie gemaak.

Bronne: people.com, news.sky.com, elitedaily.com