Die polisiewoordvoerder kapt. Tintswalo Sibeko het Woensdag in ’n verklaring bevestig inwoners het die lyk omstreeks sesuur Dinsdagaand gekry. ’n Geregtelike doodsondersoek is geopen, het sy gesê.

Op 24 Junie is die goedgeboude Edward Blonski op kring-TV-beeldmateriaal afgeneem waar hy net ná die middaguur om die Dieretuinmeer draf met ’n blou T-hemp en wit knielengte-cargokortbroek aan. Hy het nie skoene gedra nie.

Hy is die laaste keer te voet in Dorsetweg naby die Laerskool Jan Celliers in Parkview gesien.

Hy het vermoedelik die straat oorgesteek en koers gekies na die Dieretuinmeer, maar nie weer by die huis opgedaag nie.

Ná twee weke het die familie nog meer besorg geraak en nog pamflette deur die Pink Ladies en People Search And Rescue Unit (PSARU) versprei.

Albei organisasies bevorder bewustheid oor vermiste mense.

Vroeër die maand het Blonski se niggie Jacqueline Wijtenburg op Facebook beskryf wat die familie deurmaak.

“Sy onverklaarbare verdwyning is moeilik vir ons verstand en uitdagend vir ons hart.  Een van ‘ons’ is weg en het moontlik seer. Daar is ’n leemte. ’n Leegheid. ’n Gebrek aan tasbare inligting. ’n Raaisel wat ons inhou.”

Sibeko het bevestig die familie het die lyk Dinsdagaand uitgeken.

Blonski se familie het in ’n Facebook-plasing in die vroeë ure van Woensdagoggend bevestig die ongeïdentifiseerde lyk is syne.

Lede van die publiek het op hom afgekom en die polisie sal na verwagting ’n lykskouding doen om die oorsaak van sy dood te bepaal.

“Ons familie wil elke liewe mens en organisasie opreg bedank wat ons die afgelope twee weke wyd en syd help soek het,” sê Wijtenburg.

Bron: news24.com