’n 14-jarige meisie se liggaam is Sondag in digte bosse gevind ná sy sedert Saterdag vermis was.

Cameron Brits, die slagoffer, se lyk is in die bosse by Slangkop Straat in Ocean View ontdek.

Cameron is vermoedelik eers verkrag voor sy verwurg is berig Netwerk 24.

Kol Andrè Traut, ’n polisiewoordvoerder, het die voorval bevestig.

“’n Ondersoek het gelei tot die arrestasie van ’n 19-jarige man wat tans in aanhouding is. Sodra hy aangekla is sal hy in die hof verskyn op aanklagte van moord en verkragting.”

In ’n afsonderlike voorval het ’n 18-jarige vrou aan haar wonde beswyk ná ’n skietvoorval.

Die vrou het glo in die gemak van haar huis gesit toe sy deur die venster van haar huis geskiet is.

Die voorval het omstreeks 11:20 Sondagoggend in Carnation Road plaasgevind.

Volgens Traut word die omstandighede rondom die voorval nog ondersoek.

“Die omstandighede word nog ondersoek en niemand is nog in verband met die voorval gearresteer nie. Die motief moet nog vasgestel word.”