Sedert Madelein Murray (41) vermis geraak het ná hewige oorstromings in Pretoria in November 2016, het haar familie nog nie een oomblik ophou glo dat hulle binnekort antwoorde sal kry nie.

Die nuus dat daar die afgelope naweek ’n vrou se liggaam in die Blesbokspruit naby Heidelberg gevind is, het egter min antwoorde en nuwe seer vir haar ma, Frances, gebring.

Lees ook: Vrae nadat vrou se lyk in rivier by Heidelberg gevind is

"Iemand het my gebel en vertel hulle lees in die nuus van die liggaam, maar ek het dadelik gedink dit kan nie Madelein wees nie. Sy het by die Apiesrivier vermis geraak. Hoe sou sy in Heidelberg beland?"

Toe die polisie boonop later bevestig die vrou wat gevind is is bejaard en het grys hare, het Frances gewéét dis nie haar Madelein nie.

Die lyk is Vrydagmiddag gevind, maar geen vroue is onlangs in die area as vermis aangemeld nie, het kapt. Thivhulawi Tshilate, ’n polisiewoordvoerder, aan Huisgenoot bevestig.

Lees ook: Pretoriase ma weier om vloedslagoffer-dogter dood te verklaar voor ‘iets van haar’ gevind word

"Ek is steeds elke dag in ’n flat spin," sê sy. "Ek wil net antwoorde en bevestiging oor Madelein hê."

Madelein en haar seun Hanco (20) was op pad om sy ouma te gaan haal toe hulle oor ’n laagwaterbrug by Flowerstraat in Capital Park wou ry. Die stroom het Hanco se wit Nissan Skyline meegesleur.

Lees ook: ‘Ek wens ons kon net iets kry om te begrawe,’ sê ma van vrou wat in vloede vermis word

Hanco het dit reggekry om uit die vloedwaters te ontsnap, maar die stroom het sy ma meegesleur.

Hoewel die soektog na Madelein amptelik op 19 November 2016 afgelas is, sê Frances hulle hoop steeds. "Ek het gister met die polisie gepraat, want ek het ’n foto op Facebook gesien van ’n vrou wat werklik nés Madelein lyk."

Madelein se seun bly by haar eksman, Bertie. Sy het vier ander kinders.

“Van al vyf die kinders, was hy seker die ergste oor sy ma," het Bertie vroeër aan Huisgenoot gesê.

Die familie vra dat enigeen met inligting die volgende nommers skakel: 083-324-9595 of 076-748-0112.