Dit is in 2005 uitgedink toe ’n span wetenskaplikes skattings gemaak het waarby weerstoestande en skuldvlakke ná Kersfees betrokke was en toe tot die slotsom gekom het dat dit die een dag in die jaar is wanneer mense die meeste geneig is om terneergedruk te wees.

Maar het jy geweet selfs jou troeteldiere kan aan die simptome ly? Volgens die dierewelsynsvereniging PDSA (People’s Dispensary for Sick Animals), is eensaamheid die grootste oorsaak van depressie by honde; hulle het ’n opname gemaak onder 31 500 troeteldiereienaars.

Hulle beweer dat 2,3 miljoen honde gereeld langer as vyf uur alleen gelaat word by die huis, en 28 persent van die honde-eienaars in Brittanje glo dat dit glad nie verkeerd is dat troeteldiere tussen ses en 10 uur per dag alleen by die huis bly nie.Maar veeartse beweer vier uur is die absolute maksimum hoeveelheid eensaamheid wat brakke kan verwerk.

“Dit is kommerwekkende bevindings en die feit dat mense dink dit is aanvaarbaar om hul hond so lank alleen te los, is veral rede tot kommer,” het Vicki Larkham-Jones, ’n veearts by die PDSA, verklaar.

Eensame, gefrustreerde honde is meer geneig tot probleem- of ongewenste gedrag, en meer as die helfte van die veeartse in Brittanje het gesê hulle het die afgelope twee jaar ’n toename opgemerk ten opsigte van genadedood weens gedragsprobleme by honde.

Wat sake nog erger maak, is die bewering dat 465 000 honde nooit uitgeneem word om te gaan stap nie. Daaglikse oefening en sosialisering met ander honde is lewensnoodsaaklik vir alle gesonde honde en dié wat nooit uit die huis kom nie, loop gevaar van geestesteurings.

Die diere gaan ook nie net terneergedruk voel nie; eensaamheid kan as swak gedrag by honde manifesteer. Dit is waarom party van hulle die meubels en matte begin verskeur wanneer hul eienaars uithuisig is, en dit kan ook lei tot intense senuweeagtigheid en skeidingsangs wat ’n gekerm en kwessies ten opsigte van sindelikheid veroorsaak.

Die boodskap agter die opname is dat eienaars van diere mooi moet dink oor die wyse waarop hulle hul diere behandel. Lang tye alleen by die huis is nie lewensvatbaar nie. As jy ’n hond het moet jy maniere bedink om jou leefstyl te verander om jou troeteldier te pas.

Gereelde wandelings is noodsaaklik, en hulle moet vir jou en jou brak ewe voordeel inhou. Stap is ’n wonderlike manier van oefen en ’n wandeling tot by die park is ’n goeie manier om ander honde-eienaars in jou omgewing te leer ken.

Dit kan selfs beteken dat jou hond nie al is wat nuwe vriende maak nie; net die regte medisyne om die oorblyfsels van blou Maandag te besweer!