Die vroeë opsporing van gehoorverlies is belangrik; sou dit onbehandeld bly, kan dit hul spraak- en taalontwikkeling en leervermoë belemmer. Dikwels lei gehoorverlies by kinders ook na moeilike kommunikasie en sosiale isolasie, wat jou kleintjie alleen en verbouereerd kan laat.

Wanneer moet ma’s uitkyk vir tekens van gehoorverlies?

Daar is in studies bevind dat babas bekende stemme nog voor geboorte herken, en ’n ma verwag dat haar pasgebore baba op haar stem sal reageer, hul oë beweeg en dalk skrik vir ’n harde geluid soos ’n deur wat klap. Hema Thakor van die gehoorapparaatvervaardiger Oticon South Africa sê as jou baba nie een van die bogenoemde tekens toon nie, moet jy hul gehoor laat toets.

“Die gaping tussen die woordeskat van ’n horende kind en dié met gehoorverlies verwyd met tyd,” sê Hema. “Sonder intervensie sukkel kinders met gehoorverlies om by te bly; daarom moet jy vroeg optree as jy vermoed jou kind sukkel om te hoor. Hoe vroeër die probleem geïdentifiseer word en intervensie begin word, hoe beter lyk die kind se vooruitsigte.”

Hoe bevestig jy gehoorverlies?

Ligte gehoorverlies word nie so maklik opgetel nie omdat ’n kind nie sagte geluide kan hoor nie. Dit word gewoonlik eers duidelik wanneer die kind begin praat, tussen een en een en ’n half jaar oud. ’n Oponthoud in hul taalontwikkeling is ’n aanduider. Soms word die verlies eers duidelik wanneer die kind sukkel om by die skool te hoor.

Hema verduidelik dat dit dikwels moeilik is vir ouers om hul kind se gehoorverlies te bevestig. “Dit kan ’n traumatiese ontdekking wees en baie ouers wil dit aanvanklik nie aanvaar nie omdat dit vir hulle te pynlik is. Dit is heeltemal normaal, maar om jou kind se onthalwe is dit belangrik om ’n oudioloog te spreek en jou kind se gehoor so vroeg moontlik te laat toets.”

’n Kind se gehoor kan so vroeg as geboorte getoets word. Die meerderheid mediese fasiliteite in die privaat sektor het inderwaarheid programme wat die baba se gehoor toets voor hulle ontslaan word.

Hoe werk die toetse?

By babas is die doel om die oorfunksie te toets deur die buite- middel- en binne-oor (koglea) objektief te toets. Die baba reageer nie op die toets nie; die toerusting doen die werk. Toetse duur tussen een en drie minute en voel vir die baba asof iemand ’n vinger in hul oor druk. As gehoorverlies vermoed word, gaan die oudioloog die toets waarskynlik ’n paar keer herhaal om seker te maak die resultate is akkuraat.

Hoe kan gehoorverlies behandel word?

Volgens Hema is daar verskeie opsies vir behandeling. “Spreek jou dokter of oudioloog oor opsies om jou kind se hoorvermoë te optimaliseer om hul spraak en taal te verbeter. Jou kind kan met ’n gehoorapparaat of kogleêre toestel toegerus word. Maar jou oudioloog sal die beste weet watter een die beste een vir jou kind is.”

Kry hulp

“Onthou, die pad na gehoor is dikwels vol emosionele spanning. Moet dus nie die proses alleen aanpak nie; selfs ouers het ondersteuning nodig,” sê Hema.

Besoek oticon.co.za vir nog inligting oor gehoorverlies en moontlike behandelings.

Volg ons gerus op Facebook en Twitter en kom speld saam op Pinterest.