Hierdie privaat grond sal nie net die spoggerige tombes huisves nie, maar diere sal ook daar rondloop om ’n gevoel van rustigheid en vrede te skep.

Dié New Age Cemeteries-projek is gister aangekondig op die jaarlikse Suid-Afrikaanse Begraafplaaskonferensie in Durban. Een grafhuis sal meer as 500 grafte kan “huisves”. Die eienaar kry die reg om dit te gebruik vir ’n tydperk van tot 200 jaar.

Die eienaar kry die reg om dit te gebruik vir ’n tydperk van tot 200 jaar.

Afgestorwenes se oorskot sal in ’n spesiaal vervaardigde kapsule geberg word. Spesifieke ensieme gaan toegevoeg word om die lyk te help om vinniger te ontbind.

Families sal kan spesifiseer presies hoe hul – of ’n ander familielid se – “woning na die dood” van 75 m2 moet lyk. Elke tombe sal ook ’n digitale fotoraam insluit waarop foto’s van die oorledene permanent gewys gaan word.

Kommer is reeds uitgespreek oor hoe duur so ’n graf gaan wees. Tans kos ’n erf in ’n gewone privaat begraafplaas sowat R30 000. Dit gaan heelwat duurder wees.

Daar word gehoop om die projek gou van stapel te stuur. “Al waarop ons wag is vir die geskikte stuk grond en dan kan ons begin,” sê Tertia Jacobs van New Age Cemeteries. Sy en haar kollega, Thersia Botha-Corrigan, praat reeds van 30 Johannesburgse families wat belangstel. “Hulle wag net dat ons wegspring sodat hulle hul eie eenheid kan aanskaf.”

Die projek word aanvanklik spesifiek vir Johannesburg en omgewing beplan.

Bron: Times Live