Prof. Mark Post, ’n fisioloog aan die Maastricht-universiteit, en sy span het twee jaar aan die ontwikkeling van hul “proefbuisvleisfrikkadel” bestee. Dit bestaan uit 3 000 repies kunsmatige beesvleis, elk omtrent so groot soos ’n ryskorrel, wat uit die stamselle van ’n geslagte koei gekweek is. Die stukkie vleis van omtrent 140 g is teen ’n ontwikkelingskoste van R3,75 miljoen ook die duurste wêreldwyd.

Die spierweefsel wat uit die stamselle geskep is, is gemaal en vermeng met vet wat ook in die laboratorium gekweek is.

Mark reken dié tegniek kan eindelik omgewingskade en koskrisisse help verhinder; stamselle wat by ’n enkele bees geoes is, kan ingespan word om na raming ’n miljoen keer meer vleis te kweek as wat die blote slag van een so ’n dier sou lewer.

“Die vraag na vleis gaan binne die volgende 40 jaar verdubbel. Ons gebruik nou 70 persent van ons landbouvermoë om vleis deur vee te voorsien. As ons niks aan die saak doen nie, gaan vleis ’n weeldeproduk en baie duur word. Vee dra ook fluks tot kweekhuisgas-vrystelling by, selfs meer as vervoer,” het Mark gesê.

Dit sal egter nog ’n hele ruk duur voor ons almal ons tande in sulke “groen” vleis kan slaan. Die huidige proeflopie verg nog heelwat verfyning voor laboratoriumvleis kommersieel beskikbaar sal raak.

Sommige kenners meen wel dié burger-onthulling in Londen se spoggerige West End kan daartoe bydra dat kunsmatige vleis binne vyf tot 10 jaar in supermarkte verkoop sal word.

“As ons dié tegniek teen kosskaarste wil inspan, moet die langtermyndoel wees om groter stukke vleis, soos steaks en tjops, te kan kweek,” volgens Mark.

“Hopelik sal dié bekendstelling genoeg geesdrif en finansiële steun help skep sodat ons die prosesse kan uitbrei en kostedoeltreffender maak.”

Die diere-kampvegters Peta reken sulke vleis sal ook moreel aanvaarbaar wees as dit beteken dat minder diere geslag word. “In vitro-vleis bied mense ’n manier om ‘eties te eet’ en steeds hul vleis-fix te kry,” is hoe Lindsay Rajt van Peta dit stel.

Hulle het juis R15 miljoen uitgeloof aan navorsers wat voor einde vanjaar ook met die eerste proefbuis-hoendervleis vorendag kom. Kan nie wag nie . . .

Bronne: www.maastrichtuniversity.nl, foodnavigator.com, metro.co.uk, guardian.co.uk