“Help, asseblief, ek het ’n luislang wat aan my gesig vassit,” is die eerste woorde wat ’n 45-jarige vrou van Sheffield Lake, sowat 40 km van Cleveland, Donderdag aan ’n operateur van die Amerikaanse noodlyn-diens 911 gesê het.

Die operateur se verstomde “Mevrou, jy het ’n wát?!” eggo in alle waarskynlikheid dieselfde verstomming wat deur talle se kop sou gaan op daardie “luislang-aan-my-gesig”-oproep.

Dit eindig nie daar nie. Die paniekbevange vrou verduidelik dat sy die slang die vorige dag gered het.

Die operateur hoor “arrested” in plaas van “rescued” maar sy druk deur en luister gelukkig verder na die oproep.

Die vrou se stem klink al hoe meer paniekerig. “Maak asseblief gou, dit het my nou aan die neus beet!”

Die operateur vra of sy enigsins in staat is om die slang se kake oop te sper. “Ek probeer, maar daar’s bloed orals,” kom die benoude antwoord.

Luidens berigte was die slang reeds om haar middellyf gekrul en druk besig, letterlik en figuurlik gesproke, om haar stelselmatig te probeer verwurg.

Gelukkig het die plaaslike polisie en brandweer binne enkele minute by haar huis opgedaag waar hulle die bebloede vrou gevind het. Sy het in haar oprit gelê.


Aanvanklik het hulle probeer om die slang van meer as 1,5 m lank van haar af te trek. Maar dit was tevergeefs. Al uitweg in daardie stadium was vir een van die brandweermanne om ’n knipmes in te span en die slang se kop af te sny.

Slange is nie ’n nuutjie vir haar nie. Sy het glo nege ander slange wat as die “koninklike luislang” bekend staan.

Dennis Bring, Sheffield Lake se burgermeester, het die nooddienste geloof vir hul optrede.

“Ek glo die byt was baie seer en sy gaan vir ’n tydjie daarmee gediend moet wees. Nou moet sy ook ’n besluit neem of sy wil voortgaan met haar slange,” het hy aan Fox News gesê.

Volgens ’n studie versmoor luislange nie werklik hul prooi nie. Die druk wat op die prooi uitgeoefen word, stop die bloedtoevoer. Dit veroorsaak ’n gebrek aan suurstof na die brein en bewusteloosheid sal volg.

Bronne: foxnews.com, abc.net.au